Photo Caption
Photo Caption

Wees braaf, kyk op

Sê maar net
Astrid O'Callaghan

Ek het onlangs by ’n fees in Dublin tussen sowat 60 000 ander mense gestaan. Die musiek was ongelooflik, die atmosfeer elektries, en almal was daar vir dieselfde rede – om die oomblik te beleef.

Toe die eerste liedjie begin speel het, het ek om my rond gekyk. Ek het oral mense gesien wat video’s en foto’s neem of die oomblik met hul fone vasvang. Ek het gewonder of ek ook my foon moes uithaal.

Ek hét.

Ek het ’n foto of twee geneem. Net genoeg om eendag weer daarna te kan kyk en vir familie en vriende te wys waar ek was. Maar toe besef ek iets: Geen foto of video gaan ooit die gevoel van daardie aand kan vasvang nie. Nie die energie nie. Nie die hoendervleis-oomblikke nie. Nie die gelag saam met ’n goeie vriendin langs my nie.

Toe sit ek my foon terug in my sak.

En vir die res van die aand was ek net. . . daar. Daardie klein besluit het my aand onverwags verander.

Nie omdat ek dink fone is sleg nie. Inteendeel, ek is dankbaar daarvoor. Maar ek het die afgelope ruk doelbewus probeer om nie elke stil oomblik outomaties met ’n “scroll” te vul nie. 

Dit het moeite geverg, want ons lewe in ’n wêreld wat ons voortdurend laat voel asof daar iewers anders iets interessanter aan die gang is. Dat iemand iets plaas wat jy móét sien. Dat jy dalk iets gaan misloop.

En ek is só dankbaar ek het. Want daardie aand het ek iets gesien wat geen plasing op sosiale media ooit vir my sou wys nie.

Ek het ’n man en vrou gesien wat dans asof niemand anders bestaan nie. Ek het ’n gesin gesien wat so lekker saam lag dat almal rondom hulle begin glimlag het.

Ek het gesien hoe vreemdelinge vir mekaar plek maak, kinders op hul ouers se skouers en mense wat uit volle bors saamsing sonder om hulle te steur aan hoe dit lyk.

En skielik het dit my getref. 

Dís die regte goed.

Nie die perfek saamgestelde wêreld waarin ons so maklik vasgevang raak nie. Nie die gefilterde hoogtepunte wat ons algoritmes vir ons aanhou bedien nie.

Die regte wêreld gebeur nie op my skerm nie.

Dit gebeur in die glimlagte rondom my.

In die mense langs my.

In die oomblikke wat nooit viraal gaan nie, maar vir altyd by my bly.

Ek is bly ek het daardie twee foto’s geneem. Maar ek is nog blyer dat die herinneringe wat die helderste in my gedagtes voortleef, nie op my kamera-rol is nie.

Dis die paartjie wat gedans het. Die gesin wat saam gelag het. En die vriendin langs my wat saam met my uit volle bors gesing het.

Daardie aand het ek besef hoe maklik die wêreld om ons ons kan laat glo dat die interessantste lewe altyd êrens anders afspeel.

Dat ons iemand anders se video, vakansie of storie nodig het om geïnspireer te voel.

En intussen gebeur ons eie lewe.

Reg voor ons.

Miskien is dit hoekom dapperheid hierdie maand vir my anders lyk.

Nie ’n reusesprong of ’n dramatiese besluit nie.

Net die klein, amper onbenullige keuse om meer gereeld op te kyk.

Om die lewe wat reeds voor my afspeel, raak te sien.

Hier is my uitdaging vir jou hierdie maand: Die volgende keer wanneer jy voel jy móét kyk wat op jou skerm aangaan, kyk eers wat om jou gebeur.

Jy mag dalk verras wees.

Want die mooiste stories word nie altyd opgeneem nie.

Hulle word geleef.

Wees hierdie maand braaf genoeg om op te kyk. . .

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-07-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer