Astrid Ou0027 Callaghan
Astrid Ou0027 Callaghan

Wees braaf, kies goedhartigheid

Astrid O' Callaghan

Van buite af lyk dit soms asof dinge net maklik vir my uitwerk. So asof die verkeersligte altyd groen word net wanneer ek daar aankom. Iemand het eenkeer vir my gesê dit lyk of alles eenvoudig net in plek vir my val. Wat min mense weet, is dat dit nie altyd so was nie.

Toe ek jonger was, het dinge glad nie vanself gebeur nie. Ek het geworstel, getwyfel en meer as een keer gevoel ek is besig om teen die stroom te swem. 

Die skuif het eers gekom toe ek my ingesteldheid verander het – toe ek begin glo het dat niks werklik onmoontlik is nie. Nie oornag nie, nie met ’n towerstaf nie, maar stadig, doelbewus, met geloof en moed.

Onlangs het ons ’n groot mylpaal gevier – vyf jaar in Ierland. Hierdie naweek het ons begin om al ons dokumentasie vir ons burgerskapaansoek gereed te kry. Het jy geweet dat ’n Ierse paspoort beteken jy kan vrylik oraloor Europa werk en studeer en toegang tot staatsvoordele hê? Wat ’n ongelooflike toekoms vir ons kinders.

Maar eers… die papierwerk. Meer as 400 dokumente moes gesertifiseer word. Dit het gevoel asof ek bewys moes lewer van elke enkele tree wat ons die afgelope vyf jaar gegee het – ek was half verbaas hulle het nie ook vir ’n toonafdruk gevra nie (grappie!).

Ons is toe na die Garda-stasie – die polisiestasie soos ons dit van die huis af ken. Ek het myself voorberei vir moontlike sugte en ongeduld toe ek met daardie dik lêer instap. In plaas daarvan het ek besluit om met goedhartigheid in te stap. Alles was alfabeties gesorteer, oorspronklike dokumente gereed, en ek het probeer om die proses so maklik as moontlik te maak.

En toe gebeur iets wat my laat glimlag het. Drie beamptes het sommer spontaan ’n stelsel gevorm – een het gestempel, twee het geteken – en binne minder as ’n uur was ons klaar.

Deur die hele proses het ek gesels, gehelp en dieselfde goedhartigheid uitgestraal wat ek self graag wou ontvang. En soos dikwels in die lewe, is dit presies wat ek teruggekry het.

Ek weet mense rol soms hul oë wanneer ek sê jy kry terug wat jy die wêreld instuur. Maar ek glo dit met my hele hart.

Ek stap deur die lewe met die oortuiging dat dinge sal uitwerk soos dit moet, en ek doen dit met ’n oop hart en ’n glimlag. Ek help waar ek kan, want ek weet dit kom altyd terug – dikwels dubbeld.

Ja, jy gaan soms mnr. Grompot by die padblokkade of agter die betaalpunt raakloop. Maar wees dan nóg sagter. Miskien het daardie persoon net ’n bietjie van jou lig nodig.

Dit verg dapperheid om deur die lewe te stap en te vertrou dat die pad homself voor jou sal ontvou. Maar glo my as ek sê – dit het my nog nooit in die steek gelaat nie.

Van vandag af, wees braaf – en word dit wat jy hoop die wêreld vir jou sal wees.  

 

* Astrid is ’n Namibiër wat saam met haar man en twee jong kinders in Waterford, Ierland, woon. Sy is passievol oor vrouebemagtiging en geestesgesondheid. Dié rubriek is deel van haar Be Brave Monthly Glimmer-inisiatief waar sy elke maand haar gedagtes, ervarings en raad per e-pos deel.

– Gasskrywer

[email protected]

 

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-02-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer