Photo Caption
Photo Caption

Wees braaf en wees ’n granaat

Sê maar net
Astrid O'Callaghan

’n Goeie vriendin van my woon op ’n plaas naby Outjo waar hulle granate verbou. Hulle maak sap en ander produkte daarvan en verkoop dit. Eendag vertel sy my iets van granate wat my onverwags laat stilstaan het.

Wanneer hulle die vrugte pluk, is daar natuurlik granate wat gekneus is of reeds begin sleg word het. Maar dié beskadigde vrugte kan tussen die mooi, gesonde granate lê sonder dat die goeie granate ook begin vrot. Die een se kneusplek word nie sommer die ander een s’n nie.

Ek het later weer daaraan gedink, want ons mense werk nie altyd so nie.

Ons absorbeer maklik wat rondom ons aangaan. Iemand se negatiewe opmerking bly heeldag by jou. ’n Ander persoon se sinisme laat jou skielik aan jou eie planne twyfel. Jy hoor genoeg mense sê iets is onmoontlik, dom of naïef, en voor jy jou oë uitvee, begin jy dit self glo. Soms verander ons selfs hoe ons praat, dink of optree net om beter in te pas of om nie uit te staan nie.

Vandag is daar boonop soveel stemme om ons: Familie, vriende, kollegas, sosiale media en die samelewing se idees oor hoe ons behoort te lyk, leef en presteer. As ons nie versigtig is nie, dra ons later ander mense se vrese en opinies rond asof dit ons eie is.

Natuurlik beïnvloed mense mekaar. Ons leef nie in vakuums nie. Daar is mense wat ons oplig en mense wie se swaar ons saam met hulle dra. Maar dalk lê die les juis daarin om te leer om tussen medelye en besmetting te onderskei.

Jy kan langs iemand se seerkry staan sonder om self verbitterd te raak. Jy kan na kritiek luister sonder om elke mening as jou eie waarheid te aanvaar. Jy kan deel van ’n gemeenskap wees sonder om elke verwagting daarvan soos ’n uniform aan te trek.

Dalk moet ons ’n bietjie meer soos granate wees.

Stewig genoeg aan die buitekant om te weet wie ons is. Vol lewe en kleur aan die binnekant. Naby genoeg aan ander om saam in dieselfde mandjie te lê, maar nie so maklik beïnvloedbaar dat iemand anders se kneusplek ons identiteit word nie.

Dit beteken nie ons moet hard of gevoelloos wees nie. Inteendeel. ’n Granaat se sterk skil beskerm iets kosbaars binne-in. 

Miskien moet ons ook beter leer om dit wat in ons leef, beter te beskerm: Ons waardes, ons hoop, ons drome en daardie stil stem wat weet wie ons is wanneer almal rondom ons iets anders sê.

Ons kan nie altyd kies langs wie ons in die lewe beland nie. Maar ons kan kies wat ons inneem, wat ons glo en wat ons toelaat om deel van ons te word.

Wees braaf. Bly sag van hart, maar sterk van skil. Wees ’n granaat.

– Gasskrywer

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-08-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer