Wees braaf en ‘own’ dit
Ek was nog altyd redelik tuis in my eie vel, maar in die korporatiewe wêreld in Ierland kan jy vinnig leer om jouself kleiner te maak sodat almal anders gemaklik voel.
Een dag het ek iets gedoen en dadelik gedink dis nou ongemaklik, regtig “cringe”. Toe sê een van my leiers vir my: “Ja, dit was cringe, maar dit is ook jy en mense hou daarvan. Own it.”
Dit was nie ’n nuwe les in selfaanvaarding nie, eerder ’n sagte herinnering dat ek nie my egtheid hoef weg te steek om professioneel te lyk nie. Nie elke lomp oomblik hoef reggemaak te word nie. Nie elke vreemde grappie beteken jy moet jouself kleiner maak nie. En nie elke keer wat jy anders is, beteken jy is verkeerd nie.
Intussen raak die wêreld al hoe harder. Op sosiale media sê die een persoon jy móét vyfuur opstaan, water drink en jou lewe voor ontbyt in orde kry. Die volgende een sê jy moet eerder slaap, teen ’n stadiger pas leef en ophou om elke minuut produktief te probeer wees.
Ons blaai, luister, vergelyk en probeer om brokkies van almal se raad in ons eie lewe in te pas. Op die ou end kan jy só besig wees om die “regte” mens te probeer word, dat jy vergeet wie jy reeds is.
Ek sê nie ons moet ophou leer of groei nie. Ek sê net: nie elke stem verdien ’n sê in jou storie nie. Neem dit wat jou help. Los dit wat nie pas nie. En wees dapper genoeg om te vertrou dat jy self ook iets het om te bied.
Ek dink ons wag dikwels vir iemand anders om vir ons toestemming te gee: om hardop te lag, ’n idee te deel, ons aksent te behou, ’n bietjie anders te wees.
Veral as jy ver van die huis af woon, kan dit maklik voel asof jy heeltyd tussen wêrelde beweeg. Jy leer om aan te pas en dis ’n goeie ding.
Maar om aan te pas, hoef nie te beteken dat jy jouself moet wegsteek nie. Dis nie altyd maklik nie. Daar is ruimte vir beide respek én egtheid – vir groei én die dinge wat jou uniek maak.
Miskien is dit vandag se klein lewensles: Jy hoef nie altyd die gladste, slimste of mees indrukwekkende weergawe van jouself te wees nie.
Soms is die dapperste ding wat jy kan doen om vir jou eie ongemaklikheid te glimlag, jou skouers regop te trek en te sê: “Ja, dis ek.”
Wees braaf. Wees jy. En “own” dit.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie