Wees braaf en kies jou seisoen
Ons leef in ’n wêreld waar daar van vroue verwag word om alles perfek te doen – ’n uitstekende ma, ’n uitstaande professionele persoon, ’n goeie vriendin, ’n toegewyde eggenoot – gesond, fiks, sosiaal aktief en altyd beskikbaar.
Soms voel dit asof ons heeltyd op ’n verhoog staan waar almal wag om te sien of ons gaan val.
Ek het onlangs teruggeskuif na my ou loopbaan in oudit ná amper twee jaar. Ek het geweet wat voorlê – ’n besige seisoen, nuwe firma, nuwe kliënte en die druk om myself weer te bewys. Ek het ook geweet ek sou nie dieselfde energie aan alles in my lewe op dieselfde tyd kon gee nie.
En daar moes ek ’n moeilike, maar bevrydende besluit neem: Ek hoef nie in hierdie seisoen die beste in alles te wees nie.
Vir vier maande het ek doelbewus gekies om sekere dinge rustig te vat. Waar ek gewoonlik drie tot vier keer per week gimnasium toe sou gaan, het ek net een keer gegaan.
Ek het skaars geen geleenthede bygewoon of aangebied nie. Ek het my sosiale kalender “stilgemaak”. Ek het myself toestemming gegee om nie oral te wees nie.
Ek het eerder op my werk, my man, my kinders en my vrede gefokus.
En weet jy wat? Dit het gewerk.
Ek was steeds ’n goeie eggenoot en ma. Ek het my werk gelewer en elke deadline gemaak. Ek het myself trots gemaak. Ek het nie uitgebrand nie. Ek het nie myself in die proses verloor nie.
Ons vergeet soms balans beteken nie dat alles elke dag ewe veel aandag moet kry nie. Balans beteken om eerlik te wees oor wat hierdie seisoen van jou vra.
Sommige seisoene vra vir groei.
Sommige vra vir rus.
Sommige vra vir oorlewing.
En sommige vra vir fokus.
Die fout wat ons maak, is om te dink ons moet alles op volle spoed hou, al verkrummel alles binne jou.
Dapper wees beteken nie altyd om meer te doen nie. Soms beteken dit om minder te doen – sonder skuldgevoelens.
Dit beteken om te sê: “Vir nou kies ek hierdie.”
Dit beteken om te vertrou dat wat jy vir ’n rukkie neersit, nie vir altyd verlore is nie.
Die gimnasium sal wag.
Die geleenthede sal weer kom.
Die wêreld val nie uitmekaar omdat jy kies om dit vir ’n seisoen stadig te vat nie.
Om dapper te wees beteken soms eenvoudig die volgende: Kies verstandig, kies vrede en vertrou jou seisoen.
Jy hoef nie alles gelyktydig te dra om suksesvol te wees nie. Jy moet net dapper genoeg wees om te weet wat werklik saak maak.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie