Charlotte Beukes-Muundjua
Charlotte Beukes-Muundjua

Waterpas-mense

Sê maar net
Charlotte Beukes-Muundjua

Ons ken almal daai tante, ’n niggie, suster of vriendin. . . oor die maat PRESIES. Pynlik millimeters-befoeterd!

By ’n familiebyeenkoms is party half gesuip, die ander in ’n Zoeloe-blues van ’n oordosis Prozac. Want jy weet klaar selfs hier by die dood bly die waterpas-tantes aan spits van gebeure. Moenie nog dat die samekoms by ’n snob tante se huis is nie. Sy sal vooraf sê: “Bly asseblief uit die eetkamer, die Venus-staanbeeltjie kom uit Italië.” (Venus-beeltjie se voet, jou man het gesterf!)

Jy raak so oorbewus en oorversigtig dat jy wel die tee laat stort. . . en sy’t klaar gesien, met waterpas-oë wat tot in jou mangels deurboor!

Die “fyn-kam” madam Bucket-span. Gewoonlik ook die Judge Judy “trait”. Wragtig by die dood eerste my min hare sien. Wie traak oor hare, hier lê ’n dooie mens met sy mooi hare en al! Waag jy nie die kleurkombinasie van familie respekteer nie. Jou bloes is wit in plaas van beige. Weer die valk waterpas-oë wat sny. My speeksel bou op in my keel. Ek wil net klaarmaak en skoert. Soveel spanning dat my traankliere op strike is – vergeet om hartseer te wees.

Hierdie waterpas-dames het vergeet hoe ons grootjies Hollandse medisyne sonder afmeet vir ons ingejaag het. Ja, so was die term “ jaag rooilaventel in vir daai onrustigheid”. Zero apteeklepeltjie, die paplepel was die beste om te verhoed dat die medisyne stort. Jy’t ook geweet as daai lepel aankom, moet jy jou mond wyd oopmaak.

Nou val ek mos in die “adewize” (otherwise)-kategorie. Dis nie my skuld nie, natuurlik moes my Skepper “chop and change” vir balans. Hy oorlaai my met kunstigheid en minus meetkunde en syferwerk. Hand-oog-koördinasie ’n ongestolde basterjellie! Boonop moet my Saartjie B-onderlyf balanseer op nommer 5-voetjies. Daar druip ek byvoorbaat; ongelyk kwadraat!

Terug by die waterpas-span – kussings word elke môre geruk en pluk tot hotel-standaard-akkuraatheid. Messegoed in laai moet penreguit wees soos UK se soldaatjies. Afdroogdoeke hang soos Mr Price Home se advertensie – presies om die patroon te vertoon.

Selfs die klere ophang het nie ’n aks skeefgeit. Absoluut verstommend! Het hulle altemit “zoom-in-oë”?

Praat van opskep. Daar kom Jamie Oliver se presiesheid in. . . nie ’n enkele ryskorrel verdwaal na die pampoen of ’n druppel sous beland op die bord se rand. Dan wonder ek of ons Skepper altemit ’n waterpas in hulle sig en hande ingesit het? My vrek, ek trek ’n skewe lyn met ’n liniaal! My naaldwerkjuffrou wou weet hoe het my rokpatroon gekrimp tot ’n eel? Watse maatband het ek gebruik? Of was my skêr te skerp? Of my oë swak.

Ek gee ná ’n jaar naaldwerk op. Sports was ook uit want ek laat verloor die netbalspan met vlieënde balle.

Ná my derde kind het ek ondraaglike rugpyne. Ek word gestuur hierie-kantoe-daarie-kantoe; weer beland ek by waterpas-witjas-mense waar alles mikrometers presies is. Daar hoor ek my een been is effe korter en moet ’n spesiale skoen kry. Ten laaste ’n verklaring vir my “adewize”-geit. Maar die spesiale skoen het nooit gebeur nie, want my bankrekening was nie waterpas nie en hubby wat begroot per sente, nie rande nie. Ek sweer as hy verantwoordelik vir kruideniersware was, sou hy elke dag “stock taking” doen, selfs die baked beans tel.

Ek eindig by “insoles”. Die kort been kry ’n ekstra haak-oplig-kussing. Amen, ek is nou op gelyke voet en gereed vir my dryfliksens. Toe nie, ek druip parallelparkering keer op keer want dis weer meetkunde. Dan dink mens ná skool is die kastyding verby. Aikona sissie, meetkunde loop lewenslank saam tot by jou doodskis en jou graf.

Ek’t selfs my kinders se outydse luiers met speld een kant skeef gehad. Onlangs moes ek my kleinkind se weggooidoek wissel, en sowaar ongelyk dat die strontjies by een boud uitlek.

Miskien het ek iemand anders se regteroog gekry, ek glo dan ek sien reg. Ek korrel letterlik soos op ’n skietbaan. Los maar die naald-en-gare-episodes. ’n Gekorrel en missteek tot jy maar die jongspan nader wink vir help.

Ek reken die waterpas-span moet onder “kunste” val, want sowaar daai kooi opmaak laat my na ’n dronk weeluis voel.

Ek wil elkeen van my inspektrise-waterpas-tantes en -niggies met hul spesiale verjaardag (50, 60, 70) verras met ’n massiewe waterpas-koek. Die vangplek sal wees: ’n Afdraand-waterpas met ongebalanseerde versierings.

Is dit nou nie ’n oorspronklike idee van ’n alles-skeef-ongelyk-persoon nie?

Verbeel jou jy kom eendag by die hemelpoort en jy vind sekuriteitsengeltjies met ’n waterpas in die hand?

Sorry tog ou pêl, daar’s geen omdraai nie, want daai reguit pad is gesluit en sien jy kans vir die skewe pad?

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar

Republikein 2026-09-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer