Henriette Blignaut
Henriette Blignaut

Wat vir die een mooi is

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Henriette Blignaut – Dis nou maar ’n feit wat soos ’n paal bo water staan: ons kan nie almal mooi wees nie.

En tussen die skoonhede wat die afgelope weke ons land so versier met hul perfekte lyfies en voorbladgesiggies, is dit ’n feit wat, ná ’n onderhoud of drie met ván hulle, jou tussen die oë slaan.

In my deeglike beplanning van my onderhoude gaan ek oor na Plan B. Met natuurlik heeltyd in gedagte: ons almal is nie só mooi nie. Ek besluit om hulle te peper met diep vrae. Ook maar vrou, ook maar ydel.

Ek wil mos nou sien of hulle so slim is as wat hulle mooi is. En natuurlik om my te laat beter voel – die toets of intelligensie bo mooigeit gaan seëvier.

Met my neus versteek in dik boeke soek ek naarstiglik na vrae oor hul onderskeie lande se geskiedenis, politieke beleid, stand van damme, gemiddelde reënval, hellinghoogte van hul hoogste berge, die oudste mens wat op die kabinet dien. . . so soort van ’n Henriette vs Skoonhede “Trivial Pursuit”.

Maar ’n vrou is nie net ydel nie; sy’s gaaf ook. Ek weet nóu nog nie hoe baie dit by hulle reën nie, die helling van die hoogste berg nie, wie hul Methusalemme is nie. Nie omdat hulle dit nie kon antwoord nie, maar omdat ek meer realistiese (en steeds kopkrapvrae gevra het. Almal het perfek geantwoord. Dus, dié met wie ek gesels het, is mooi en slim.

Gelukkig verskil elkeen se idee van mooi. As jy op universiteit vir ’n mansvriend gevra het om sy “blind date” te beskryf en hy antwoord, “Sy’s baie gaaf”, of “Sy’t ’n mooi persoonlikheid”, moet jy maar weet, sy sal nooit die voorblad van ’n modetydskrif haal nie. In manskoshuise is kompetisies onder die studente gehou en weddenskappe aangegaan oor wie die lelikste meisie ná ’n aand uit kan koshuis toe bring. Die ou wat wen, is die gelukkige wenner van die “Hond”-trofee. Een mansstudent is later uit die kompetisie geskryf omdat hy keer op keer die trofee in sy kamer kon sit. Hy’t elke keer sy meisie koshuis toe gebring! Eintlik moes die knaap die Man van die Jaar-trofee gekry het. Hy het dalk sonder dat hy dit besef het die lig gesien en besef ’n mooi gesiggie is nie so belangrik soos ’n meisie wat ure met jou oor dinge van belang kan gesels nie.

Die wêreldse selfvertroue wat die skoonhede openbaar, het my laat wonder of hul ma’s hulle van kleins af ge-“train” het vir dié soort van kompetisie. Dit is seker die grootste onreg wat ’n ma haar gemiddelde dogtertjie kan aandoen. Hoe verduidelik jy nou aan haar hoekom kry haar maatjie wat soos ’n engeltjie lyk die kroon en sy met die laggies en grappies kry nie eens ’n troosprys nie? Verduidelik jy aan ’n kind van twaalf jaar persoonlikheid is belangriker as skoonheid! Vra my ma, sy’t op ’n vroeë stadium in my lewe besluit haar dogter moet gaan vir die Mej. Hartediefie-kroon.

Wel, twee dekades en vier jaar later kies ek dieselfde as doerietyd – die laggies en grappies in jannas bo ’n kroon en ’n mooi rokkie met valletjies en blinkleerskoene.

Wat mense nie besef nie, is dat dit harde werk is om so te lyk. Ek bedoel: dis onderlaag, maskara, oogomlyner, poeier, lipstiffie en vogroompies, oogroompies, water en vrugte, oefeninge, hare kleur en diëte.

Elke vrou is egter mooi. Kyk maar hoe besing die digters haar. Sy was al in anys, in ’n nartjie en tot in kaneel.

Salomo kon nie genoeg van hulle kry nie en skryf die waarde van die vrou hoër aan as korale, en hy behoort te weet. Elisabeth Eybers, een van die bekendste Afrikaanse digters, sê: “Hoe begeerlik is ’n vrou se lag, se sekerheid, se lis.

“Let wel, ’n vrou, nie ’n maer, mooi vrou met blink hare en ’n bloesende vel nie. – 10 Mei 1995

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer