Henriette Blignaut
Henriette Blignaut

Wat myne is, is myne!

Ek sê maar net 30 jaar gelede
-

Henriette Blignaut – Bloed is dikker as water. En bloed vloei waar water nie loop nie.

Nou weet ons almal bloedskenk is ’n edel ding om te doen. En mooi so! Vir almal wat die lus en dryfkrag het om vrywillig te gaan stilsit op ’n skel-oranje omdopstoel en toelaat dat ’n naald in jou arm gedruk word om ’n pint van jou kosbare bloedlyn in ’n sakkie te laat beland. Nié vir my nie. 

Oor een doodeenvoudige rede. Rooi is my gunstelingkleur, maar in bloed verloor dit ietwat sy trefkrag. Die laaste bloedtreksessie was ’n nagmerrie van swymel tussen die naald en die buisie deur en neerplons op die suster se skoot.

Ewe braaf gaan sit die lam ter slagting toe nou maar doodstil op die stoel, daar’s mos niks om voor bang te wees nie. Glimlag dat jy net tanne sien – tot die naald sy weg in die aar vind. Toe was die skok net eenvoudig te groot en die volgende oomblik val al wat ’n aar is plat, behalwe dié wat sorg dat darem genoeg suurstof sy weg na die brein vind. En met die platval word die bietjie bloed wat al in die naald was, uit die aar geforseer en spuit met ’n straal tot op my jeans. 

Toe ek sien hoe die rooi so mooi meng met die blou van die jeans, is dit koebaai braafgeit en helo, floute! Die suster se skoot was die naaste om op te val terwyl alles draai en ek wonder hoekom staan haar tafel op die plafon en waar kom al die naargeit vandaan. 

’n Skerp reuk van vlugsout bring die tafel weer op die grond en die bekommerde suster hier vlak voor my neus weer in driedimensionele visie. Snaaks hoe ’n mens se lyf dan net nie wil inpas op ’n stoel nie.

Maar den einde is dit niet. Ons moet weer probeer. “Moenie vir die naald kyk nie.” Ek kyk nie vir die naald nie, ek sien die bloed en jeans wat nou al so ’n persblou kol maak. Ons probeer weer en die are het darem nou weer geswel en daar’s plek vir die naald en hoe voller die sakkie word, hoe erger word die naar en die stoel staan nou lángs die tafel op die plafon! Met die sakkie vol, die suikerwater op en die vlugsout stewig in my sinusse vasgevang, is ek op pad.

Hier moet ’n mens uit voordat jy nog een moet volmaak en dapper wys ek ’n koppie soet tee van die hand. Soos een wat die Nuwejaar tot vroeg voor Paasfees gevier het, stap ek hand-aan-hand met die mure rondom my om ’n vriendin vir ’n koffie-afspraak in ’n bekende koffiekroeg te ontmoet. 

Die (on)gelukkige kelner is dié keer die slagoffer van my bloedskenkery toe die duiseligheid op sy vraag: “Wat sal dit vanoggend vir u wees?” weer oorneem en my kop sy heup tref.

Ongemaklike posisie vir ons albei, maar broodnodig vir my wat net iets soek om teen te rus. Met so ietsie sterkers in my koffie is ek ’n paar minute later weer in staat om te praat sonder om te stotter met een sekere wete: bloedskenk is nie vir my nie!

’n Vriendin vertel ná haar bloedskenksessie het haar bene ook onder haar ingevou en het een van die mediese personeel haar met ’n koekie vertroos met die vertroostende verduideliking: “Ons moet djou mooi oppas, djy’t mos vir ons bloed gegee.” – 21 Mei 1996

Kommentaar

Republikein 2026-05-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer