Wat is jou komvandaan?
In 2021 word “komvandaan” vir die eerste keer in die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) opgeneem. Die inskrywing lui gedeeltelik as volg: komvandaan s.nw. (geselstaal) Plek waar iem. gebore is of grootgeword het: Een of ander tyd móés dit kom. Dat ek sou afskeid neem van my komvandaan (Rapport, 29 Mei 2005, 22).
In 2025 publiseer Marita van der Vyver haar jongste nie-fiksie-roman, My jaar van vrees en vryheid. Hierin vertel sy van haar en haar Franse man se swerfjaar in Europa, Noord-Amerika en Suid-Afrika nadat hulle weens die pandemie noodgedwonge hul huis in Frankryk moes verkoop en vir ’n wyle padlangs ander tuistes moes vind.
Hoofstuk 25 van dié roman is getiteld “Huisloos beteken nie tuisloos nie” en daarin vervat sy wat komvandaan wérklik is. Opnuut het ek besef waarom sy my gunstelingvroueskrywer in Afrikaans is. Waardeer gerus háár woorde saam met my:
Ek leun vooroor om verby ander passasiers deur die kajuitvenster te kyk, om ’n eerste blik op Tafelberg te kry, klein soos ’n poskaartprentjie, bedek met die wolkekleed wat die Suidoos altyd oor dié tafel gooi. En terwyl die vliegtuig sak en die berg groter word, gebeur daar iets in my binneste wat ek nie kan verklaar nie. Ek dink aan Fernando Pessoa se bewering dat sy enigste tuisland die Portugese taal is. Dis ’n uitdrukking van hartstog waarmee ek gewoonlik saamstem, want ek het uit ervaring geleer dat ek op talle plekke tuis genoeg kan voel om my tentpenne daar in te kap – net figuurlik, natuurlik, want ek hou mos nie van tente en kampeer nie – solank ek in my moedertaal kan dink en lees en skryf en praat.
Ek onthou ook James Baldwin se woorde oor “tuis” wat miskien nie ’n plek is nie, eerder ’n onveranderbare toestand, want in die afgelope maande van swerf het ek gereeld oor hierdie toestand getob.
En tog, die oomblik toe die vliegtuig land, voel ek tuis op ’n ander manier as op enige ander plek op aarde.
Ons kan vele tuistes in die loop van ons lewe hê, maar ons het almal net een komvandaan.
“Komvandaan” is ’n lieflike Afrikaanse woord wat deesdae heeltemal te veel gebruik word. Te veel komvandaans is soos te veel verkleinwoordjies, te veel vloekwoorde, te veel byderwetse sleng, te veel van enige soort woord, eintlik. Maar wanneer ek in die Kaap kom, ruik ek my komvandaan. Sien en hoor en voel en proe ek waar ek vandaan kom.
Nadat ek dié gedeelte gelees het, het ek eers die boek neergesit, die woorde laat insink en dit herlees. Dis eenvoudig te treffend om dit nie te doen nie. My wens aan jou, liewe leser, soos ons die laaste vyf maande van die jaar betree, is dat jy sal asemskep. Lank genoeg om te onthou waar en/of wat jóú komvandaan is – ook dat jy voortdurend daarin sal tuis voel.
Elzeth Harmse
Afrikaansonderwyseres


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie