Wiesie Kotzu00E9
Wiesie Kotzu00E9

Waarmee voed jy jou onderbewussyn?

Sê maar net
Wiesie Kotzé

Wiesie Kotzé – ’n Tydjie terug het ek geskryf dat ons as ’n gesin ’n “grief retreat” bygewoon het. Dit het baie herinneringe aan Mari, ons dogtertjie wat oorlede is, weer losgemaak wat reeds weggebêre was. 

Gedurende dieselfde tyd gesels my gesin op ons WhatsApp-familiegroep van my Pa se niggie, Hannarie Wenhold, wat finansieel tot ’n botaniese kunsgalery in die Kaap, in die Grootbos-florilegium, bygedra het. 

Ek het daardie nag ’n droom gehad. Ek was vir die vierde keer swanger en oortuig daarvan dat ons die dogtertjie Hannarie moet noem. Die doel van hierdie voorbeeld vandag is nie om met julle oor droomontledings te praat nie; ek wil vir julle wys hoe ons bewuste wêreld ons onderbewussyn beïnvloed.

Ons mense het baie idees oor ons IK, ons intellek, ons oortuigings en dit waarvoor ons staan. Al daardie dinge gebeur in die ruimte van ’n mens se onderbewussyn. 

Maar wat voed jy jou onderbewussyn? Gruwel- en spookflieks en flieks oor demone. Sosiale media en ander mense se vreugdes en dramas. Baie mense sê dit pla hulle glad nie, hulle weet die gruwel en demone is fiksie.

Soms is sosiale media ook grotendeels fiksie. Maar weet jou onderbewussyn dit? As jongmens het ek destyds vinnig besef ek moet van gruwelflieks en rolprente oor spoke en demone wegbly, omdat my verbeelding sonder enige hulp met sy eie gruwelscenario’s vorendag kon kom. 

Sosiale media bied weer ’n misleidende vergelyking met ’n mens se eie lewe. Onthou net die beste en mooiste oomblikke word op sosiale media gedeel – nie die alledaagse oomblikke nie. Sosiale media is nie ’n goeie vergelyking tot ’n mens se eie lewe nie. Die vergelyking is skeefgetrek deur menslike strewe. 

Ek het die laaste paar weke en maande saans voor ek gaan slaap my fiksieboek bo die Bybel gekies. Ek is meestal so moeg dat ek redelik droomloos slaap sodra ek uiteindelik aan die slaap raak. Maar die laaste ruk het die Here en my gewete my aangespreek. Ja, vandag skryf ek vir myself, hoop julle kan daarby baat vind. Onthou, die kos waarmee ’n mens jou onderbewussyn voed, veral net voordat jy gaan slaap, is die kos waaraan dit “kou” terwyl jy slaap. 

Net vir interessantheid: Het julle geweet dat ’n mens minder breinkrag gebruik wanneer jy televisie kyk as wanneer jy slaap? Ek sal glo dit is soortgelyk aan die hoeveelheid breinkrag wat gebruik word wanneer ’n mens op jou selfoon “scroll”. 

Maar terug by die punt: Jou brein is meer aktief wanneer jy slaap as wanneer jy televisie kyk en wakker is. Dus, waaraan “kou” jou brein terwyl jy slaap? Alles wat die brein daardie dag ingeneem het. 

As gelowige dink ek dis ’n goeie idee om die dag af te sluit met kos uit die Woord uit, in plaas van die kitskos waarmee ek my brein die laaste tyd gevoed het.

Maar hierdie gewoonte van my kom al jare en dit gaan ’n doelbewuste poging verg om dit te verander. Ek sal julle op hoogte van die vordering hou.

Hoop dit laat julle so ’n bietjie nadink en wonder oor dit wat julle julself voor slaaptyd voed. Hou asseblief daardie onderbewussyn op ’n gesonde dieet! Dit kan net positiewe gevolge vir die onderbewussyn inhou. 

Met liefde, van Wiesie.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer