Yolanda Nel
Yolanda Nel

Waar is hierdie sogenaamde ‘village’?

Yolanda Nel
Toe ek destyds besef het dat boetie no. 1 ouboet word, moet ek erken ek was meer as net ’n bietjie oorweldig deur dié vooruitsigte.

Almal en sy maat het my verseker, “it takes a village”, soos die Engelsman sê en daar sal genoeg hande wees om te help. Kan iemand dalk hulle telefoonnommers vir my aanstuur of dalk ’n skakel na hul webtuistes? Dis reeds drie jaar later en ek wag nog steeds vir die barmhartige Samaritane om my te kom help.

Ek is oortuig daarvan dat peuters en kleuters net ore het om hulle regop te hou.

’n Arme siel vra nou die dag in die sosiale media of iemand nie raad het nie. Haar blom is nou twee jaar en vier maande oud en sy raak in die aand met ’n groot gejuig wakker. Dan skree sy dat die dak lig en jy waag dit nie om aan haar te raak nie. Sy wil nie tee, melk of ’n omkoop-sjokolademelk hê nie. Sy wil nie Bluey, Paw Patrol of Gabby’s Dollhouse kyk nie. Jy is eintlik hartseer, want jy sal graag wil weet wat volgende gebeur.

Ek besluit toe ek sal hierdie mamma se “village” wees, want my oplossing kan haar dalk help. En as dit haar nie help nie, sal ek my ore op die grond hou en op die uitkyk wees vir nog oplossings.

My hart gaan uit na hierdie mamma, want my jongste het dieselfde probleem. Ek dink dis ’n 2020-ding. Dit is op die ou einde vasgestel dat dit “night terrors” is. Dis soos ’n nagmerrie, maar net meer realisties. Dis wanneer jou peuter halftwee in die oggend jou kamerdeur stadig laat opswaai en soos ’n mal haas hande-viervoet in jou rigting hardloop.

Nou kyk, ek is redelik aan die slaap daardie tyd van die oggend en jou reflekse is treurig om die minste te sê. Jou hart sê vir jou dis jou kind, maar jou brein sê vir jou as so iets op dié manier na jou toe aangehardloop kom, moet jy dalk koers kies in die ander rigting.

My liggaam het besluit wanneer dit by “fight or flight” kom, gaan hy eerder vries. Hoe nader hy aan my kom, hoe harder gil hy. En al wat ek kan dink is, ek sweer ek is in ’n nagmerrie.

Ek het begrip vir die vrou. Ek weet nie wat is medies die regte ding om te doen nie, maar ek vind dit werk vir ons om die lig aan te skakel. Ek het ook by die dokter gaan aanklop vir ’n spesiale druppeltjie (alles wettig en natuurlik). Ek deel my suksesverhaal, want dalk help dit die arme blom ook.

Dis nie lank daarna nie toe kom ek op ’n webblad af wat verduidelik hoekom hierdie druppels nie regtig nodig is en voorstel dat ek dalk net ’n beter slaaproetine vir my kroos kry.

En ek wonder hoekom. Hoekom my wen vat en my foute uitwys? Jy staan nie in my skoene nie. Jy weet nie hoe lyk my dag nie. Jy weet nie of my “village” twee mense of 200 mense sterk is nie. Jy weet nie hoeveel nagte jy saam met jou kind – wat nie kan ophou skree – opgehuil het nie.

Dis so maklik om iemand se kroon op die internet af te slaan, eerder as om dit reg te skuif. Ons kan eerder met deernis en geduld ons opinies deel, want ek wil deel van jou “village” wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2023-02-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer