Vrydagmiddag in Rieckmannstraat
’n Pa lê langs die pad op ’n stowwerige sypaadjie en skree-huil. Ek sien hoe sy hele lyf bewe.
Sy hande oor sy gesig en sy geliefdes wat tevergeefs sy rug vryf en hom van die grond af probeer help.
’n Blonde jong vrou kom aangehardloop, haar oë vol trane. “Ek kan nie sonder hom nie!”
Ek staan halfskaam en klou met my sweterige hande aan my mediakaart. My lyf bewe ook. My oë is ook nat.
Ek gaan staan agter die rooi-en-wit-band en kyk na die rook wat aan die ander kant sigbaar is, daar waar die vliegtuig geval het.
Mense met groot kameras hardloop verby my, dan verby die gesin wat mekaar omhels, oor die rooi-en-wit-band en ek sien hoe hulle in die rook in verdwyn.
“Hoekom kan hulle deurgaan, maar ons kan nie? Dis my broer wat daar lê!” skree ’n vrou vir die polisieman wat die rooi-en-wit-band beman. Hy antwoord nie.
’n Klein gesin kom stap nader en praat met ons stilswyende “bandbemanner”. Hulle huis is verby die polisieband en hulle wil kyk of alles oukei is.
“You can go, but the children must wait here.”
Die pa is dadelik op sy perdjie. Ek probeer aan hom verduidelik dat die owerhede waarskynlik die kinders probeer beskerm van die grutoneel en die brand.
Hy val my aan soos net ’n onbeskofte Afrikaanssprekende oom kan. Ek onttrek my van die gesprek. Dit was seker in elk geval nie my plek om iets te sê nie.
Ek begin skuldig voel, want ek is ’n joernalis en ek moet seker my werk doen en probeer om nader aan die toneel te kom. Ek stap tot by die jong man in uniform en wys hom my mediakaart.
Die man in uniform vra van watter mediahuis ek is. Ek antwoord hom.
“There is already enough media.”
Ek frons, maar besef dan ek is eintlik verlig. My kollega is in elk geval van die eerste mense op die toneel en is treë weg van die brandende wrak.
Ek draai om en sien weer die blonde jong vrou wat huil. Iemand het ’n baadjie om haar skouers gegooi en sy sit op die kattebak van ’n motor wat oopgemaak is.
“Ek wil nie sonder hom lewe nie!”
’n Paar meter weg staan ’n swart vrou met ’n klein seuntjie aan haar hand.
“What is she saying, mama?”
“She says that she cannot live without him.”
’n Entjie weg staan ’n jong meisiekind agterop ’n bakkie. Ek skat haar so 12 jaar oud. Sy kyk ook na die blonde vrou. Dit lyk asof sy heel alleen is en ek stap nader.
“Hallo liefie, waar is jou ma of pa?”
“My pappa staan daar ander kant.”
My oë volg haar wysvingertjie in die rigting van ’n man wat by die skare agter die rooi-en-wit-band saamdrom.
Later loop ek terug na my kar wat ’n blok of wat van die ongelukstoneel parkeer staan. Ek weet nie hoekom nie, maar sonder om te dink haal ek my foon uit my sak en begin die nommer intik wat ek seker al ’n miljoen keer in my lewe getik het. My hande bewe en my oë brand.
“Hallo ma, hoe gaan dit?”
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie