Dieter Ian Maree
Dieter Ian Maree

Vrede met verganklikheid

Sê maar net
Dieter Ian Maree

Die dag ná haar 40ste verjaarsdag met die wind-dronk klanke van Mariah Carey en haar Dreamlover wat nog in ons ore suis, vra sy my wanneer ’n mens nou uiteindelik begin lewe?

“Is dit nou wanneer jy die ouderdom van 21, 40, 50 of 60 bereik?”

Dis nogal ’n moeilike een, want “eendag” het vir elkeen sy eie betekenis en voorwaardes wat aan voldoen moet word. In ’n mate word salf ook aan ’n wond gesmeer, of ideale op ’n vertroostende manier gekoester. Solank ons aanhou droom, is daar nog lewe!  

Wat gebeur egter as ons met ’n terminale toestand in die vorm van ’n aggressiewe kanker of meer onlangs ’n koerslose Corona gediagnoseer word? Waar en hoe ver staan “eendag” en hoe trek ons hom nader?

Waar begin doen en sê ons dit wat ons nog altyd wou gesê, gesing of geskryf het? Hoe maak ons vrede met ’n verganklikheid wat skielik en ongeduldig aan ons hart se deur klop?

Blosende gesondheid, materiële welvaart, politieke stabiliteit en ’n nimmereindige jeugdigheid help om die illusie te handhaaf dat “eendag” ’n yo-yo-buigsaamheid en refleks het. As ons die toutjie mooi inspan, en die afwaartse beweging met ’n savvy nuwerwetse kuns uitvoer, gaan die yo-yo outomaties weer in ons handpalm beland.

In die fliek The Shawshank Redemption vertel die karakter Andy vir sy medegevangene Red, vertolk deur Morgan Freeman, van hoop en. . . “you can get busy living or get busy dying”. En dit nadat Andy al ’n geruime tyd aan allerhande wedervaringe in ’n tronk blootgestel is.

Wanneer begin lewe ons?

Of het ons alreeds ’n sekere onbewuste dood begin sterf?

Die fisiese vryheid wat ons met “eendag” ervaar of ons ongewilligheid om met ons tydelike bestaan vrede te maak, gaan beslis nie ons finale bestemming ’n bietjie verder in ’n never-say-die toekoms uitstel nie.

Dit is in baie gevalle wanneer ’n mens hom of haar op die drumpel van die dood bevind, dat die lewe weer kleur en betekenis begin kry. Wanneer daar ongelukkig (of gelukkig!) nie meer tyd of energie oor is om nog wrokke te koester nie.

Die stroperige mini-drama’s en alledaagse onbenullighede wat gedurig rigting gegee het aan ’n saai en voorspelbare bestaan, word nie meer ernstig opgeneem nie. Daar moet nou kennis en vrede gemaak word met iets wat vir ons almal wag – nie eendag, maar binnekort – ons verganklikheid!

Die verlammende angstigheid waarmee die laaste paar dae gegroet word, maak soms plek vir ’n bietjie vrede en gemoedsrus as jy besef dat die stukkie wat jy tot dusver geniet het, jou lewe was en nie die van ’n ander nie. Daai boompie wat geplant was of ’n gemeenskapsprojek wat aangepak is, bring nou ’n tipe sielsverligting en gloei wat geen woord kan beskryf nie.

Ná ’n skramse ontmoeting met die koue kluite of ’n hewige liefdesteleurstelling het jy iewers ’n rigting ingeslaan en besluit dat jy wil lewe in plaas van sterwe. En so kom daar tye in ons almal se lewens waar ons herinner word aan ons menslikheid – ons stoflikheid. 

Elf minute na ’n kort en duur begrafnis dwing die verbysterende spoed van die moderne lewe ons egter weer sonder simptome terug op die snelweë van verwagtinge en eise wat nooit ons eie was nie. 

Stom, statige verwyte en ’n medepligtige one-size-fits-all verbeeldingloosheid tel ook onder die ongenooide gaste wat nou afskeid neem van ’n klomp, naamlose prestasies.

“But doubts and loves dig up the world like a mole, a plough…,” herinner die digter, Yehuda Amichai ons nog steeds. 

Om vrede te maak met ons verganklikheid, is om op hierdie heilige oomblik met dankbaarheid diep asem te haal en te glimlag ten spyte van omstandighede buite ons beheer. . . Nou begin jy lewe!

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer