Voor WhatsApp was daar briewe
Sosialemediatoeps, soos WhatsApp en vele ander, is wonderlik vir vinnige kommunikasie. Dit gesê, persoonlik hou ek nie daarvan om langafstand-konneksies daarmee aan die gang te hou nie.
Ek ervaar druk en vind dit nie noodwendig organies nie. Hierdie is my ervaring en ek is bewus daarvan dat dit vir ander mense baie beteken en ek verstaan dit.
Noem my outyds, maar ek verkies ’n brief. ’n Handgeskrewe brief wat met die slakkepos tot by die ontvanger reis. ’n Koevert met ’n posseël, geskribbel en dalk ’n foto of twee. Daar is ’n romantiek in briewe skryf wat met tyd verlore gegaan het. Ons kitsdae en ons kitslewens eis kitskommunikasie. Funksionaliteit geniet prioriteit bo intensie.
Ek verlang na die opgewondenheid en die kopspasie wat opwindende briefpapier vir mens gee. Ook die kuratorskap van briefinhoud wat sê “ek dink aan jou. . . ek neem tyd; met ’n koppie koffie; ’n pen in my hand; ek dink wat ek vir jou wil sê en hoe ek dit wil stel”.
Hierdie gebaar het al baie mense deur moeilike tye gedra. Ek lees in die boek Troep, saamgestel deur Bun Booysen, wat briewe vir soldate beteken het. ’n Soldaat het ’n blou briefie ontvang van ’n onbekende dame wat by Tukkies studeer het. Die aanhef het gelees: “Aan die man op die grens”. Hierdie veteraan noem dat hy daardie briefie in sy hempsak gedra het totdat die ink begin klad het. Die tasbaarheid en die verganklikheid van ’n stukkie papier maak die boodskap soveel meer kosbaar.
Van ’n skrywersperspektief is die skryfproses as tydsverdryf terapeuties. Om ’n brief te skryf help met emosionele verwerking en regulering. Dit verminder angs en kognitiewe oorlading. In die verlede het hierdie terapievorm meer aandag geniet.
Koning Frederik die Grote het daagliks ná ontbyt deur pen en papier met korrespondente gesels. Vandag stuur ons gou-gou boodskappe tussen afsprake en wanneer ons wag vir ’n verkeerslig om groen te word. Ons het nie meer tyd vir terapeutiese dink, besin en ontlaai op papier nie.
Ek is steeds in kontak met ’n besonderse vriendin danksy die mag van die brief. Ek was einde 1995 nege jaar oud toe die Morrows van Grootfontein na Durban verhuis het. My paadjie met my boesemmaatjie, Juliette, het geskei. Daardie tyd was selfone so groot soos bakstene en net in Amerikaanse flieks te sien. E-posse, soos ons dit vandag ken, was nog nie gebore nie. Ek weet nie eers of Namibië al behoorlik internet gehad het nie. Internasionale telefoonoproepe was peperduur. Die gevolg was, ek en Juliette kon net met briewe in kontak bly.
Vir ons was die agterkant van ’n posseël net so lekker soos ’n suigstokkie. Met die pos van jou skrywe begin die afwagting vir die ontvangs van ’n brief. As tieners het ons briewe lekker lank geraak. Ons het die genot van skinder op papier ontdek. Ons was al in ons 20’s toe ons die eerste keer weer ontmoet het sedert hulle trek. Ink het ons vriendskap gebind.
Vandag woon ek in China en Juliette in Ierland. Gereeld stuur ons vir mekaar poskaarte en so nou-en-dan ’n brief met ’n foto of ’n ietsie.
Ek sou graag aan meer mense, en op ’n meer gereelde basis, briewe wou skryf. In werklikheid, binne ons gerieflike, tegnologiese gedrewe dae, kon tyd net sowel hoendertande wees. En die doeltreffendheid van poskantore laat veel te wense oor. Gevolglik moet ek maar my siel op digitale skerms uitstort. Sug. . .
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie