[Voeg applous hier in]
Ek was nog nooit die mens wat hande klap as die vliegtuig land nie, maar my siel krimp ook nie bietjie dieper in my menswees in wanneer ander mense dit doen nie. Dit maak in die mees logiese manier net nie vir my sin hoekom iemand sou klap as die vliegtuig land nie. Ja, die vlieënier het iets wonderlik verrig, maar dieselfde kan gesê word van onderwysers, dokters, joernaliste, rekenmeesters ens., maar ons gee nie daardie kortstondige applous wanneer ’n leerling ’n wiskundeprobleem uiteindelik baasraak of wanneer ’n onderneming se boeke klop nie.
Toe ’n minister ook onlangs ’n staatsonderneming onder hul ministerie se mandaat ’n klop op die skouer gee oor ’n nuwe tak wat hulle geopen het, het dit my logika verbygegaan. Dit is natuurlik goeie nuus dat meer mense toegang het tot dienste en Rome is nie in ’n dag gebou nie – ons kan nie net verwag dat alles al moes gebeur het, maar tog is en bly dit hierdie instelling se doel om soveel Namibiërs as moontlik te bereik, nou bassuin ons hierdie klein oorwinning van die kranse af. Dit is hulle werk. Hulle moet dit doen. Die minister wat die media as deel van haar mandaat het kom gee nie elke dag vir ons ’n warm druk omdat ons vandag weer, soos elke dag, die koerant op die rakke gekry het nie en ons gee nie vir die polisie ’n staande ovasie met elke boef wat gevang word nie.
As ’n joernalis lank genoeg oor dieselfde onderwerp verslag doen, weet jy ook al wat in elke toespraak gesê gaan word net voor die applous kom. Wanneer dit kom by tegnologie gaan die praatjie vir omtrent twee jaar lank as al só: 'Dankie ministers teenwoordig, genooide gaste, ons vriende in die media (ons is altyd 'vriende' om een of ander rede), dames en here. Dit is ’n eer om hier te wees en vir jou te sê (vir seker die 15de keer) dat Namibië onder die toplande in Afrika is wat KI-gereedheid aanbetref. Ons werk hard aan ons konsepwette vir kubersekuriteit en data veiligheid (waaraan ons al meer as ’n dekade werk) en hulle sal nou binnekort geïmplimenteer word. Hou solank julle asem op - hier kom groot dinge!'
Dan praat die uwe verder; 'Ja wat, ek moet seker nou praat oor die rede waarvoor ons hier is. Watookal ons voor hier is, gaan ek vir jou klomp statistieke van ander lande gee, want Namibië het nie sy eie statistieke hiervoor nie en ons dink nie dit is tyd om iets daaroor te doen nie, en dan eindig ek af deur te sê dat hierdie spesifieke ding/beginsel vir Namibië baie kan beteken'. Ja, dit kan, maar dit sal nooit nie, want ons sit nie daad by woord nie – dalk omdat ons wag vir die applous voor ons met ons alledaagse werk begin. As jy ’n lekker warm handeklap wou gehad het elke keer as jy jou mees basiese doel gedien het, moes jy dalk oorweeg het om ’n vlieënier te word. Hulle kry klaarblyklik nog ’n applous.
So nou, liewe leser, wanneer jy die blaaie van hierdie koerant toeslaan en hom op sy voulyn vou, klap tog vir my ook hande. Dalk sal dit my genoeg motiveer om weer môre my mees basiese doel te dien.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie