Vlêrmuise of vlêrmense?
Genoot, ek vermoed jy het ook ’n hond of ’n kat, of jy ken iemand met troeteldiere.
Vandat ons 15 jaar gelede op Herboth’s Blick woon, het ons diere bygekry. Behalwe die grootwild wat ons bewonder, en die voëls wat saans raas dat mens byna nie ’n woord kan inkry as jy op die stoep sit nie, is dit nie ons volle verhaal nie.
In die gleuwe van ons dak woon daar vlêrmuise. Wanneer dit donker is, peul hulle by stoep se dakgleuwe uit, en soggens voor sonop, hoor ons hulle terugkom om hulle reg te skud vir die dag se inlê.
Ek en Manlief praat. Ons gaan vir hulle hul eie huis laat bou sodat hulle daar kan intrek. Ek begin navorsing doen. En lees Amanda Lollar se boek, en staan verstom. Daar word raad gegee oor hoe jy die diertjies moet red en in gevangeneskap kan rehabiliteer. Die leser kry selfs raad oor hoe om swanger vlêrmuisvroutjies te help en in te gryp tydens moeilike geboortes. Dit raak my hart. Allerlei beserings, van stukkende tande tot insekbyte word gelys saam met die medikasie en behandelings vir elke klagte onder die son – boonop vir elke subkategorie vlêrmuis in die boek. En selfs hoe om euthanasië toe te pas as daar vir die diertjie nie meer hoop is nie.
Uit die naam sou mens dink dat vlêrmuise ná verwant is aan muise en ander knaagdiere. Maar die studie toon dat hulle nader verwant is aan die mens as aan knaagdiere. Hulle deel eienskappe van primate en ander soogdiere wat oor ’n plasenta beskik. Nog iets wat my verstom, is dat ’n vlermuis net so oud kan raak soos ’n hond. In vergelyking met groter soogdiere word hulle gemiddeld drie keer so oud as wat van hul liggaamsgrootte verwag word. ’n Week oue vlêrmuisie (spesie, brasiliensis) is in 1993 opgeneem in die Bat World Sanctuary in Weatherford, Texas, met ’n verbruiselde vlerkie. Hy het 18 jaar oud geword!
’n Verdere ooreenkoms tussen vlêrmuise (die enigste soogdiere wat kan vlieg) en hul landlopende en veel groter mede-soogdiere, is die voortplantingsritme. Een kleintjie word per jaar gebore. En Genoot, veroorloof my nou om te dink aan my eie vier kinders wat die God binne nege jaar vir my gegee het nie. Vier vlêrmuisies in vier jaar. Vier menskinders in nege jaar.
Ek ontdek dat hulle emosies toon, en dat die mees primitiewe emosie op angs dui: vinnige asemhaling met oop bekke wat die mens maklik kan verwar met woede en aggressie.
Genoot, en ek weet so min van die diere wat snags ’n paar meter van my af slaap. Dat hulle die enigste soogdiere is wat so lank aaneen kan vlieg, en wat maak dat hulle lyfies by die enorme energieverbruik tydens hul nagtelike eskapades moet aanpas. Dat hulle ’n eetlus opbou en ’n massa insekte op ’n keer verorber, gelyk aan die helfte van hul eie liggaamsgewig. Ek haal my hoed af vir die navorsers se toewyding aan die welstand van dié klein pakkies dinamiet.
Vlêrmuise word ook grys met die ouderdom; hulle tande verslyt, en hulle is minder rats as voorheen. Net soos ons.
Genoot, ek gaan vir Jacques vra om te help. Hy is die skrynwerker wie my al uitgehelp het met my kleinkinders se skoolprojekte. Vir hom gaan ek vra om vir ons ’n vlêrmuiskoshuis te maak om hier op die werf op te sit.
Ek tik ‘types of bats in Namibia’ op my soek-engin in. Nee, my rekenaar s’n. (Myna sê “error”.) Ek lees dat daar 37 tipes in Namibië aangeteken is. Ek soek deur die name, en kies die enigste een wat iets laat deurskemer van ons land.
Die ‘Namib Long eared bat’ (Laephotis namibensis) behoort tot die familie mikrovlêrmuise, ook genoem, gewone vlêrmuise wat die mees algemeen en wydverspreide van alle vlêrmuisfamilies is. Hulle word dikwels bestudeer. En dít maak my intens bewus van die kaliber van my landgenote. Ons is min en dun gesaai in ons groot, oop land. Maar ek weet julle is daar. Het iemand vir my ’n plan vir ’n vlêrmuishuis wat ons op die erf kan oprig?
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie