Iru00E9ne-Mari su00EA maar net
Iru00E9ne-Mari su00EA maar net

Vir die eerste keer alleen

Sê maar net
Iréne-Mari van der Walt

Dit is vandag agt jaar sedert ek in die parkering van die hospitaal op Somerset-Wes gesit en klou het aan ’n kussing wat na sweet ruik. 

Ek het geweet dit was ’n benoude sweet, want ek het die persoon geken wie se kop laaste op daardie kussing gelê het. Dit was galbitter om die reuk van die sweet in te asem, maar daardie galbitter was al wat ek van my ma oorgehad het. 

Daar is baie harde lesse wat ’n mens oor jou ma, en gevolglik ook jouself, in jou twintigerjare moet leer. Die moeilikste is om te weet dit was ook haar eerste – en laaste – keer wat sy lewe.

Soos ek op 16 gedink het dat ek nog ’n kind is en op 25 steeds soos ’n kind voel wat sin probeer maak van die wêreld en waarskynlik ook op 48 nog sal voel asof ek een treetjie op ’n slag neem; só het my ma ook treetjie vir treetjie deur die lewe geloop.

Sy was net een keer 48. Sy het net een keer kanker gehad. Sy het net een keer haar oë toegemaak en gevoel hoe die lewe haar liggaam verlaat.

Ek het net een keer geweet hoe dit voel as iemand jou volkome liefhet. Ek het net een keer gevoel hoe dit voel om iemand meer lief te hê met elke fout wat ek van hulle ontdek het. 

Ek het een keer verstaan wat ’n sielsgenoot is. In die afgelope agt jaar moes ek vrede met my eie selfsug maak. Ek moes myself aanhoudend herinner dat ek een keer iemand liefgehad het – en dit was genoeg. Dat ek 17 jaar lank onvoorwaardelike liefde geken het – en dit was genoeg. Dat ek ’n wondervrou se diepste hartseer en onsekerheid gesien het. Dit was genoeg. 

Sou ’n stem uit die hemel brul en vir my nog vyf minute saam met haar gun, sou ek dink God is wreed. As jy my vyf minute kan gee, hoekom nie ’n hele leeftyd nie?

Waarom kan ek nie na elke vyf minute vra vir nog vyf minute nie? Ons moet afsluiting kry. Ons moet weet dat die deur na die hemel gesluit is en ons hier op aarde moet aankarring.

Ek het nog nooit verstaan hoekom ’n mens handjies sou vashou met ’n medium om van mamma te hoor nie. Wat wil jy hoor? Gee daardie vyf minute jou werklik afsluiting, of wag jy vir die res van jou lewe vir net nóg vyf minute?

Een van daardie “sieners” op die internet voorspel ons sal binnekort met ons geliefdes kan praat wat al oorgegaan het. Om wat te sê? Daar was ’n pandemie, die wêreld is in chaos, ek wens jy het my nie hier alleen gelos nie, maar ek is lief vir jou?

Kunsmatige intelligensie maak dit nou vir ons moontlik om die siener uit die prentjie uit te sny. Hulle noem dit “grief tech”. Wat help dit? Ek weet mos dit is nie my ma nie. 

En dit is die moeilikste les wat mens oor jou ma moet leer. Wanneer sy weg is, is sy weg. Geen “grief tech”, medium of genadige God sal haar terugbring nie. Jy moet vir die heel eerste keer leef sonder enige raad of veiligheidsreëlings. 

Jou hart moet breek sonder enige druk van jou ma. Jy moet die onsekerheid, die seer en die opgewondenheid van jou 20’s alleen deurmaak. Jy gaan ’n paar keer jou selfoon optel om haar te bel, maar daar is geen medium wat daardie lyn met die hemel kan verbind nie. 

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer