No Image Caption

Vind jou ritme in die lewe se lied

Adam Hartman
Ek hou van musiek. Ek hou van dans. Ek het vroeër baie gedans. Die afgelope naweek het ek en my vrou weer na musiek geluister en dit het my aan baie dinge laat dink.

In musiek is daar altyd verskillende lae – ’n klank, ’n ritme, ’n eenvoudige herhaling van een instrument. Op sy eie klink dit soms soos ’n druppel water wat uit ’n lekkende kraan val. Maar sodra ander instrumente bygevoeg word, word dit iets meer. Dit word musiek.

Elke mens hoor iets anders in dieselfde liedjie. Die een hoor die baskitaar, die ander die tromme, nog een miskien net die klavier. En tog dans elkeen op die klank waarmee sy gemoed in daardie oomblik resoneer.

Van buite af lyk dit of almal in harmonie saam dans. Maar in werklikheid dans elkeen op sy eie wysie, sy eie herhaling. En dit is juis daardie mengsel wat die dansvloer vol maak – mense wat nie noodwendig presies dieselfde hoor nie, maar wat sinchronisasie vind.

Ek dink die lewe werk ook so. Soms hoor ons net ons eie ritme en dit klink amper vreemd of eensaam. Maar saam met ander vorm dit ’n liedjie. Soos die voëls in die oggend. Een voëltjie begin sing, nog een antwoord en naderhand is dit ’n hele koor. Die klink soos luidsprekers rondom jou – geluide van oral, verskillend maar dit vorm tog saam ’n harmonie.

Dit herinner my aan ’n masjien wat behoorlik werk. Ratjies, vere, skroewe – elkeen met sy eie doel, maar alles saam maak dat die masjien glad loop. As een rat verkeerd draai of ’n veer spring, dan haak dit uit.

Dis soos ’n gesprek: Die een sê iets, die ander antwoord, iemand bou verder daarop voort – en uiteindelik ontstaan ’n idee of oplossing.

En dan is daar stilte. Dit het ook sy plek. Stilte waar jy rustig voel. ’n Stilte waarin jy net kan luister en net kan wees.

Maar die teenoorgestelde bestaan ook: Ontwrigting. Die “spanner in the works”. Wanneer iets nie net vreemd is nie, maar werklik breek, vervorm en seermaak. Soos ’n platespeler wat vashaak, of daardie skril geluid wat ’n mikrofoon maak wat voel of dit jou kop deurboor. Dis nie ’n “nuwe ritme” nie, dis nie ’n ander noot nie. Dis net verkeerd; ’n versteuring wat niks bou nie. Ek dink dis hoekom dit so belangrik is vir mense om ’n gemeenskaplike doel en visie te hê.

Dit laat my dink aan 1 Korintiërs 12 vers 12: “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.”

Die oog is nie die hand nie, die oor is nie die voet nie. Tog is elke deel nodig vir die liggaam om te funksioneer. En dieselfde met die wapenrusting van God in Efesiërs 6 – elke deel het sy eie funksie, maar alles dien die groter doel.

Die punt is: Harmonie is deel van God se skeppingsplan. Om anders te wees beteken nie dat ’n mens nie inpas nie. Dis soos ’n koor – jy kan nie die tenoor dwing om soos ’n sopraan te sing nie.

Maar saam bring die verskillende stemme ’n melodie wat andersins nie moontlik sou wees nie. Ons moet leer om aandagtig te luister na die noot wat ons aandag trek. Die ritme wat jou aanraak. In die huis, in die kerk, in die samelewing of selfs op die sportveld. Om jou spesiale plek te vind, jou stukkie van die legkaart. Want wanneer jy dit kry, pas jy in. En as jy voel jy pas nie in nie? Stop, luister weer en vind die noot wat jy nie gehoor het nie. Dan raak jy weer deel van die groter prentjie.

Ek glo elke mens het ’n ritme. ’n “Groove”, soos iemand eendag vir my gesê het. En wanneer jy daardie groove vind, begin dinge vloei. Dit bring vrede, betekenis en rigting. En dit maak jou ’n belangrike deel van die hele melodie.

Vind jou ritme. Vind jou noot. En sing dit saam met die res. – [email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-10-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer