Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Vezi, die tamatiesouskinders en ’n verlore Fiat

Henriette Lamprecht
Die feit dat die ry wagtendes so lank was soos die stroom wat doerie jare ’n Afrikaanse fliek by die inry wil gaan kyk, moes al klaar ’n teken gewees het.

Net vir konteks en verwysing. . . as jy nie vyfuur die middag al gebad en geroom en met ’n koeigelekte kuif in jou pajamas en pantoffels vir ure in ’n kar moes sit om (uiteindelik) Die Eensame Vlug of Funny People in ’n inryteater op die groot skerm te sien nie én die jafels te eet wat die hele kar vol wasem – jammer, maar dan het jy nog nie gewag nie en is afwagting bloot ’n gedagte vir jou.

Terug na die ry wagtendes wat almal by die “mall” wil indraai. Ek besef te laat ek is by die verkeerde ingang en gaan nie op my gewone plek kan stop waar ek die pad terug kar toe ken nie. Hier moet ek nou maar in.

Dis trollies en kinders wat nie ore het nie en karre wat toet en nie een enkele oop parkeerplek nie. Ek sien ’n pyltjie en volg dit, ondergronds die parkeerdieptes in. Teen hierdie tyd wasem my ruit op van frustrasie en ek druk knoppies om al twee oop te kry vir asem. Ná ek herhaaldelik myself vasry en moet agteruit ry omdat ek op bespreekte oop plekke beland, trek my gille en woorde wat nie geskik is vir ’n gesinskoerant nie die aandag van ’n baie belangrike parkeerpersoon.

Hy beduie my in ’n plek in dat ek kan kalmeer.

By ’n winkel laai ek my trollies vol van die week se spesiale aanbiedinge waaronder ’n groot bak roomys vir die hitte en blinkgoed vir die Krismis-“spirit”. Betaal my parkeerkaartjie en toe is my onthou skielik eenvoudig net weg. Die bord skoongevee met waar ek parkeer het.

Niks. Bokkerol. Nada.

Begin by een uitgang en niks lyk bekend nie. Volgende een. Bokkerol. Druk weer die kaartjie in want die tyd wat ek het om uit die parkeerterrein te ontsnap, is lankal verstreke. Sou dit op die ou einde drie keer moes doen. My nuwe tekkies maak blase. Hardloop by ’n winkel met ’n kaart vir ’n rekening in en kies ’n paar sandale. Die vrou sit dit op die rekening en staar oopmond en met afkeur toe ek net daar op die vloer neerstyg, die skuurtekkies uittrek en die nuwe skoene met prys en al aantrek.

Weer soek ek vir ’n uitgang. Besluit om ’n hysbak te probeer want daar is glimpse van onthou dat ek ondergronds moes ry. Die hysbak is oorvol en my angsbeker loop lankal oor.

Ek en trollie wurm ons voor in. Ek druk G vir Grond. Die hysbak bly op een plek en die deur gaan oop. Ek druk weer G. Hysbak staan, deur gaan oop. Die derde keer gil ’n stem van agter: “Ek wil op, druk die blerrie knoppie.”

Ek verstaan haar pyn. Op haar heup sit ’n peuter met koors, in die trollie sit drie wat hulle intussen help aan die gevriesde chicken nuggets en dit (en alles om hulle) vol tamatiesous gooi.

Ek verduidelik mooi “ek moet áf” en wonder of ek in ’n Harry Potter-movie is met ’n verskuilde platform net vir “wizards”. Die vrou met die tamatiesouskinders en koorspeuter gil: “Jy kan nie flippen affer as af nie, DRUK DIE !@#$$ KNOPPIE!!!”

Ek vlug met die roomys wat nou melk is. Teen my redder vas met ’n onderbaadjie wat sê “trolley handler” en op sy bors sy naam Vezi. Vezi sien die gesmelte roomys en paniek in my oë.

“I don’t know where I parked my car,” mompel ek.

“It’s all OK. What colour?” En so soek Vezi met die opdrag ek moet eers wag by elke uitgang, hy gaan soek rooi karre en dan sal hy fluit. Sien een en gil oor die ruimtes “Red. Mazda”. Ek skree terug: “No, Fiat.” Ek is skielik kalm soos ’n alarm want Vezi is in beheer.

Vezi sê: “Don’t worry about the trolley, I have two thumbs,” soos hy afdraand af die vol trollie tussen karre deur na die ondergrondse parkering maneuver. En my kar waar ek dit een uur en 26 minute gelede parkeer het. Toe hy help om die pakkies in te laai, sien ek Vezi hét twee duime. En die grootste hart.

NS: Vezi is met ’n reusefooitjie beloon.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Deportivo Alaves 2 vs 2 Girona SerieA: Frosinone 0 vs 5 Inter Milan Katima Mulilo: 14° | 33° Rundu: 13° | 32° Eenhana: 13° | 33° Oshakati: 15° | 32° Ruacana: 16° | 33° Tsumeb: 16° | 30° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 17° | 32° Windhoek: 15° | 28° Gobabis: 16° | 29° Henties Bay: 14° | 19° Wind speed: 23km/h, Wind direction: S, Low tide: 11:22, High tide: 05:22, Low Tide: 23:42, High tide: 17:53 Swakopmund: 15° | 17° Wind speed: 26km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:20, High tide: 05:20, Low Tide: 23:40, High tide: 17:51 Walvis Bay: 15° | 23° Wind speed: 32km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:20, High tide: 05:19, Low Tide: 23:40, High tide: 17:50 Rehoboth: 17° | 29° Mariental: 20° | 32° Keetmanshoop: 17° | 31° Aranos: 19° | 31° Lüderitz: 12° | 26° Ariamsvlei: 14° | 29° Oranjemund: 11° | 19° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 15° | 29° Lubumbashi: 14° | 29° Mbabane: 15° | 20° Maseru: 10° | 25° Antananarivo: 13° | 24° Lilongwe: 17° | 29° Maputo: 21° | 26° Windhoek: 15° | 28° Cape Town: 14° | 19° Durban: 18° | 19° Johannesburg: 17° | 25° Dar es Salaam: 23° | 30° Lusaka: 19° | 29° Harare: 15° | 28° #N/A #N/A