Verwerpte voormalige soldate in ’n onafhanklike Namibië
ANONIEM SKRYF:
Hierdie groep oudvegters is deur die regering tydens Covid-19 na die Youth Complex verplaas vanaf die Khomandosaal ook in Katutura.
Vir die afgelope ses jaar onderhandel ons met die regering om ons geld en diere te gee, sodat ons terug kan gaan van waar ons kom. Daar was beloftes, maar dit bly by beloftes.
Ons vra nie vir veteraan-status nie, daar is ander leiers wat veg vir veteraan-status in die 14 verskillende streke. Ons is oud, almal tussen die ouderdom van 60 en 90 jaar. Ons wil huis toe gaan om ons laaste jare in vrede te gaan bly en daar tot sterwe te kom.
Ons lewe hier in onhigiëniese omstandighede, geen toiletgeriewe nie, geen elektrisiteit, water word gerantsoeneer. Ons kleinkinders speel in oorvol rioolwater afkomstig van die stalletjies langsaan die Youth Complex.
Geen kliniekgeriewe. Hoe moet die oumense hospitaal toe stap vir behandeling? Hier is oumense met hoë bloeddruk, diabetes en ander siektes. Ons vra vir ’n mobiele kliniek, maar ons word geïgnoreer.
Die kleinkinders ly aan wanvoeding, flenterklere, geen skoene. Hulle gaan nie skool toe nie, want daar is nie geld vir kos in die oggend, ordentlike skoolklere en skoene vir hierdie kinders nie. Vir hierdie kinders is daar nie ’n toekoms nie.
Hul ouers is werkloos, ouma en oupa moet maar met die pensioen help. Kospryse bly styg as gevolg van petrolpryse. Jy kom net drie weke uit met die kos. Hier kom gereeld ’n bakkie met derms en stukke beesvelle. Derms word geëet en uitgebraai vir vet. Die velle se hare word afgebrand, en gekook vir kos. Is dit wat onafhankliheid gebring het?
Hierdie soldate het tydens die grensoorlog die mense in die land beskerm teen soldate aan die anderkant. Hulle wou nie teen die soldate baklei, hulle het plase en individue geteiken. Dit is hierdie soldate wat gesorg het dat die inwoners rustig in die aand slaap. Vandag is ons die uitgestote, verwerpte groep in ’n onafhanklike Namibië. Wat het geword van rekonsiliasie? Het Swapo ook die onskuldige mense in Angola vermoor?
Onthou ons was deur ’n wet geforseer om te baklei. Ignoreer jy jou oproepinstruksies gaan jy vir twee jaar tronk toe. Wat kon ons doen?
Terwyl ons wag vir die regering, wil ons ’n klein sopkombuis vir die kinders en die baie oumense begin. Ons doen ’n beroep op voormalige soldate wat plaasboere is, wat besighede besit en private persone om ons asseblief by te staan met wildsvleis, groente, melk, kinderklere, skoene en komberse ensovoorts.
Ou planke (shutter board) en plastiek vir skuiling. Ons bly in kartonhuise oorgetrek met swart of wit plastiek.
Ons het tydens die reënnagte regop gesit. As gevolg van die reën, lek die dakke, water stroom onder in. Die winter is op hande, ons dink aan ons kleinkinders in die komende bitter koue.
Mede-Namibiërs ons kry swaar, honger en is koud en nat. Ons het regtig nie hiervoor gevra nie. Onferm julle asseblief oor ons en steek ’n helpende hand uit. Ons het ’n komitee wat alles hanteer, waarvan ek een van die leiers is. Skakel my by 081 409 9587.
Ons dank u by voorbaat.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie