Renu00E9 Hugo
Renu00E9 Hugo

Verskriklike dinge op die pad?

Sê maar net
René Hugo

Ek lees onlangs ’n artikel wat só begin, “population aging is one of the defining demographic trends of the 21st century”. 

Kan jy dit glo?! 

Ek het altyd gehoop dat ek tog ook ’n “spesiale iemand” sal wees, maar het nie besef dat dit eers in my rype ouderdom sal gebeur nie.

Hiermee saam word die literatuur tans oorstroom met artikels, videogrepe en lesings oor hoe om te verseker dat ouer mense langer gesond bly (en gesond doodgaan?).

So lees ek dat een van die grootste probleme van ’n hoë ouderdom wankelrige motoriese vaardighede is – met ander woorde, ons val maklik en dikwels met katastrofiese gevolge. 

’n Kundige op hierdie gebied gee dan ook ’n aantal praktiese voorstelle oor hoe om ons liggame sterk te maak en sodoende ’n reeds hoë ouderdom te strek. Een van sy voorstelle was: Staan op jou een been terwyl jy tande borsel en versterk sodoende jou liggaamshouding. Ek het dit probeer. Die resultaat was ’n blou knieskyf van ’n harde hou teen die badkamerkassie en ’n hoeveelheid tandepasta in my neus tot by die heel agterste ruimtes.

Nog een van die kenners oor veroudering verkondig dat die grootste probleem van ouderdom die feit is dat bejaardes nie meer dors word nie. Hulle ontwater dus en gevolglik droog hulle niere, blaas en uiteindelik die hele liggaam uit. Die oplossing hiervoor is glo ’n program waartydens ouer mense elke 2 uur ’n glas water moet drink. Manlief onderskryf hierdie program heelhartig, maar stel voor dat die water op ’n gereelde basis met “Skotse water” vervang moet word. . .

En dan is daar ouderdomkundiges wie se voorstelle my wel beïndruk het. Hulle beweer dat die algemeen bekende nadelige simptome van baie bejaardes soos kognitiewe agteruitgang, sosiale depressie en geheueverlies hok geslaan kan word deur gereeld te lees. In dié verband bevind ’n navorser, Y.H. Chang (ná ’n langtermynstudie) dat gereelde lees veral tot betekenisvolle vermindering van verstandelike agteruitgang lei.

Hierdie bevindinge is eintlik logies. Ons weet mos dat, deur te lees ’n groot hoeveelheid breinaktiwiteite soos taalprosessering, geheue, verbeelding en emosionele meelewing betrek word.

Hoe wonderlik ook al – lees is vir sommige ouer mense nie altyd moontlik nie.

Baie bejaardes het dikwels nie die fondse vir leesstof wat miskien as ’n luukse bestempel kan word, nie. Gelukkig is daar tans in baie aftreeoorde biblioteke wat juis hierdie probleem aanspreek.

In dié verband bevind ’n studie in Brittanje dat “retirement-centred libraries function as cognitive wellness hubs, social interaction spaces, and tools for improving quality of lives”.

Met al die voorafgaande in gedagte, lyk dit tog asof Prediker se (ontstellende) beskrywing van bejaardes soos: die son sal donker word, die sterk manne waggel, die malers sal ophou maal en verskriklike dinge sal op die pad wees. . . tog vandag in ’n mate oorkom kan word.

Ja, baie bejaardes, tans deel van die “nuwe oumense”-groep, is vinnig op pad om veel meer jare te bekom. Ek voorsien dat, al drinkende, een-been-springende en met ’n boek in die hand, gaan ons nog vir oorlede Metusalem ’n lessie leer!!

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer