Versigtige woordjies en die alsiende digitale oog
Dis ’n aanlyn wêreld en ons leef maar net daarin. Terwyl tegnologie en veral sosiale media positiewe dinge meegebring het, het dit ook veroorsaak dat baie van ons meer in die wêreld van ons skerms leef as hier buite – en ek is beslis nie onskuldig nie.
In die wêreld van ons gloeiende reghoeke praat ons ’n ander taal. “T” is aangeneem uit “tea” nadat die frase “spill the tea” posgevat het. “Rizz” is uit “charisma” aangeneem en mense het begin “aura farm”, “delulu” wees en die “ick” kry. En hierdie alles lei tot breinvrot, beter bekend in Engels as “brain rot”.
Een neiging in die sosiale media is dat sekere woorde aangepas is om die algoritmes te ontduik. Die algoritmes soek natuurlik na inhoud wat onvanpas is, maar omdat ’n robotiese mag toesig hou oor hierdie proses word alles onder een kam geskeer. Dus is die kanse goed dat inhoud wat enigsins hierdie woorde gebruik, verwyder kan word.
Mens is egter nog mens en daar is sekere dinge waaroor ons moet praat, so toe pas ons aan. “Rape” word “grape” (of sommer net die emoji vir druiwe), as iemand sterf, word klomp eufemistiese frases gebruik en nog erger, as iemand vermoor word, word hulle “unalive”.
So trippel ons om die algoritmes se alsiende oog, maar ons doen dit al ’n geruime tyd. In die nuusbedryf is dit moeilik om tred te hou met die mooi woordjies – is iemand dood, is hulle oorlede of het hulle gesterf? Néé, hulle het die tydelike met die ewige verwissel.
Het iemand selfmoord of selfdood gepleeg? Nee, hulle het hul eie lewe geneem, maar eintlik sê ons dit maar net nie. Het ’n dier gevrek, doodgegaan of sy laaste asem uitgeblaas? Taalkundig het hy gevrek, maar volgens die rusbankkommentators waai hy nou sy stertjie in Jesus se koninkryk of wat ook al die polities korrekte term deesdae is.
Ek dink die rede waarom ons elke twee weke die Handwoordeboek van Polities Korrekte Terme moet hersien, is omdat ons hoop dat ’n mooier woord die galbitter van die werklikheid sal versoet. En sodra ons die nare werklikheid weer aan daardie woord begin koppel, moet ons vinnig ’n ander woord vind, mits ons onthou dat daar ook slegte dinge in die lewe gebeur.
Hierdie is natuurlik misplaas. Fluffy is weg en jy moet daarmee vrede maak; of hy nou aan Jesus se voete sit en of hy gevrek het en in ’n vlak graf in die agterplaas lê.
Die groot probleem is eintlik dat ons taal ontwikkel soos ons praat. Die woord “dood” kan binne twee of drie generasies uitsterf as ons dit nie gebruik nie. Dieselfde geld vir die Engels wat in die aanlyn taalkweekhuis gevorm word.
Maak sagte woordjies werklik die werklikheid sagter? Is dit goed vir ons gemeenskappe as ons nie die harde werklikheid met harde woorde kan beskryf nie? Maak ons die pyn en lyding minder deur die woord te versag?
Versigtige woordjies is ’n tydelike verdowingsmiddel vir ’n nimmereindigende probleem en deur die woordeboek elke twee weke te hersien, skep ons net nog ’n nimmereindigende probleem.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie