Marietjie van Staden
Marietjie van Staden

Verloorders ook wenners

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Marietjie van Staden

Op julle merke, gereed, weg. . .

Dis of ek soos gister hierdie gewraakte woorde onthou. Dit was vir wegspring, hardloop dat die wange dril en jy bloulê, maar as jy omkyk, is daar niemand agter jou nie – net miskien jou skaduwee. 

Elke liewe keer het jy jou allerbeste uitgehaal, maar selfs die brakke wat op laerskool op die klein plattelandse Kamanjab saamgemaak het, was lank voor jou by die wenstreep verby.

Op hoërskool was die tekortkominge duideliker sigbaar. Dié een se knieë was te dik, daardie een het ’n paar ongemaklike bottelbene gehad, nog een was gestraf met ’n paar broodvoete en ’n ander se enkels het vet, rond en met so ’n diep vou by die voete met skewe tone aangesluit – alles tekens dat jy nooit ’n naelloper van faam sou wees nie.

Maar jy kom op ’n punt dat jy keelvol raak van probeer. En dis dan dat allerhande planne in werking tree – dikwels tot jou nadeel, maar soms ook met dawerende sukses.

Dis net vir Balletjies Nel, destyds Outjo se hoofsportafrigter, dat ons nie maklik kon fnuik nie. Hy het geen pligsversuim geduld nie, aan massa-deelname geglo en ons menige keer uit ons wegkruipplekke by die koshuis kom haal. Genadeloos het hy ons in ’n ry voor sy Landrover laat inval en ons ’n stywe pas aangegee – die lange 2 km tot by die sportterrein, terwyl hy so tussendeur laaste waarskuwings uitskreeu.

Heeltemal pê met longe wat op die grond hang, was ons, soos kinders maar is, reg met die volgende plan om soos groot spelde te verdwyn – in die naaste stormwatersloot. Daar moes ons skuilhou totdat Balletjies so bedrywig geraak het met die talentvolles dat ons stil-stil kon wegsluip na Lukes se bakkery. . . vir ’n heerlike oliebol en vol smiles oor ons hom kon uitoorlê.

LO-periode het ons darem ’n meer genaakbare juffrou gehad. Sy’t maar oë toegemaak vir ons truuks soos ons keer op keer beurte gemaak het om te verdwyn – in die esel, of het hy nou ’n ander naam gehad.

Dié wat nie maklik en grasieus oor die grote kas kon gly nie, was eerste om die apparaat uit te dra en die esel se los blokke op te stapel. Was dit jou beurt, het jy opgekrul jou lê loop kry nadat die eerste blok neergesit is. En so het jou maters jou toegepak – vir ’n salige, ongestoorde rus van 40 minute.

In ons matriekjaar kom daar toe so ’n hippie-onderwyser van Johannesburg op die verlate Outjo aan. Sy pa was ’n prof en hyself het toe al ’n honnersgraad of wat agter sy naam. En hy word pêl, want immers was hy nie sportmal nie. Dit toe dat ons lompes se ander talente so hier en daar begin uitslaan as hy Shakespeare in ons koppe probeer dreun het. Ja, dit was die King Lears, Gonerils en Cordelias was.

Maar dink jy vandag terug aan hoe wyle oom Flippie Liebenberg elke keer met ’n groot prestasie van ’n kind of span sy tiervelhoed van die pawiljoen oor die veld geslinger het, weet jy dat verloorders ook wenners is.

Ons was saam met oom Flippie goeie toeskouers – altyd daar en hartlik aan die sing op ’n geestige pawiljoen. Immers het ons ou klein skooltjie se Geel Leeus (eerste rugbyspan) in daardie dae sterk spanne van groot-groot skole stof in die oë geskop en net-net die Klopper-eindstryd verloor. Maar sonder ons ondersteuning, sou dit nie moontlik gewees het nie. Ons het saam gewen. – 19 Februarie 1996

Kommentaar

Republikein 2026-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer