Vergifnis behoort aan jou, nie aan hulle

Annemarie du Toit
Ek dink ons verstaan vergifnis dikwels verkeerd.

Ons sien dit as iets wat jy vir iemand anders doen, ’n teken van goedhartigheid, of dalk ’n manier om te wys dat jy die “beter mens” is. Maar die waarheid is, vergifnis gaan selde oor die ander mens. Dit gaan oor jou eie vrede.

Om kwaad te bly, voel aanvanklik reg. Dit laat jou voel asof jy in beheer is, asof die pyn jou beskerm om weer seer te kry. Jy klou vas aan die herinneringe, die woorde wat gesny het, die dade wat jou aan jouself laat twyfel het.

Jy dra dit saam met jou, dag na dag, asof die gewig daarvan op een of ander manier geregverdig is. Maar dis nie. Dit maak jou net moeg.

Vergifnis beteken nie jy sê dit wat gebeur het, was reg nie. Dit beteken jy sê: Ek kies om nie meer daarin vasgevang te wees nie. Jy laat gaan, nie omdat hulle dit verdien nie, maar omdat jy vrede verdien. Jy maak plek binne jouself vir lig, vir asem, vir stilte wat nie meer gevul is met wat-asse en hoekom-nies nie.

Die moeilikste deel van vergifnis is dikwels nie die ander persoon nie, maar jyself. Jy moet leer om jouself te vergewe vir wat jy nie geweet het nie. Vir hoe lank jy gebly het. Vir hoe hard jy probeer het om dinge reg te stel wat nooit jou verantwoordelikheid was nie. Ons is dikwels sagter met ander as met onsself en dis ’n wrede manier om te leef.

Om jouself te vergewe, is om te sê: Ek het gegee wat ek kon met die hart wat ek op daardie tydstip gehad het. Dis om te verstaan dat jy nie swak was omdat jy geglo het nie, of dom omdat jy aan hoop vasgeklou het nie. Jy was bloot mens. En om menslik te wees beteken jy voel diep, jy maak soms foute en jy groei stadig.

Vergifnis gebeur nie in een groot oomblik nie. Dis iets wat stadig insypel, dag vir dag. Elke keer as die seer terugkom, elke keer as jy weer in jou gedagtes by daardie oomblik vashaak, kies jy weer: Ek laat gaan. Ek kies om nie weer daardie las op te tel nie. En met verloop van tyd, raak dit ligter. Nie omdat jy vergeet het nie, maar omdat jy nie meer daaraan vasklou nie.

Ek sê maar net: Vergifnis is nie vir diegene wat jou seergemaak het nie. Dis vir jou eie siel. Dis die sagte besluit om nie meer met swaar skouers en ’n harde hart te leef nie. Dis hoe jy jouself toelaat om weer lig te wees, om sonder rede te glimlag, om sonder pyn asem te haal.

Want uiteindelik, die vrede wat jy soek, wag nie by iemand anders se verskonings nie. Dit wag by jou eie besluit om te sê: Ek kies vrede, ek kies vergifnis, ek kies myself.

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-02-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer