Vasbyters en vlooipense
Sê maar net 30 jaar gelede
Om te trek is in die meeste gevalle nie ’n lekker ding nie. Daar kan seker uitsonderings wees. En dit is maar nog min dat mense nuwe dinge leer nadat hulle getrek het. Hier by ons is daar ’n uitsondering. Al die jare het ons op ons eie in die gopse gesit en nie juis veel kontak met ons medemense gehad nie. Net daar in die kantoor gesit en geskryf dat dit bars.
Noudat ons dorp toe gekom het, is dit ’n heel ander storie.
Hier sien ons nou die dinge gebeur wat ons voorheen net oor geskryf het. Veral as die donker nader gekruip het. In ons nuwe omgewing word daar hard gewerk. En nou praat ek nie van by die koerante nie.
Hierdie vroue hier op ons straathoeke is vasbyters. Hulle staan sommer die heelnag hier rond op soek na ’n werkie. Eers later moes ek hoor watter soort werk hulle doen. Ek het altyd gedink dit is maklike werk daardie, maar nou dat ek hier in dieselfde werksgebied as hulle my brood moet verdien, kom ek agter watter lang ure hulle werk. Ons het altyd gedink koerantmense werk lang en ongemaklike ure. Maar hierdie dames is ons een voor.
En dan is daar diegene wat net op die kafeestoepe sit en gesels. Waar en vir wie hulle werk, weet nugter alleen. Dit is ook een van die nuwe dinge wat ons hier in die dorp kom ontdek het. Hopelik sal ons nooit in hierdie slegte gewoonte verval het.
Heelparty van hierdie mense ken ek en ek weet hulle werk almal vir base. Ek wonder of hul base weet van hierdie koffiedrinkery terwyl hulle betaal word om te werk. Mense wat vir hulleself werk, kan dit nie bekostig om op kafeestoepe te sit en klets nie.
Enige tyd van die dag kan ’n mens op pad om ’n storie te gaan doen, by een van hierdie eet/drinkplekke in die middestad verbyloop en dieselfde klomp sit daar. En dit lyk altyd of hulle ernstig in gesprek is. Dit lyk of hulle besig is om Namibië se probleme op te los en die volgende wat hulle gaan aanpak, is die bevolkingsvraagstuk in China. En soos hulle tekere gaan en die tyd wat hulle aan gesprekvoering bestee, moet hulle dit ook kan baasraak.
Hierdie ouens is ’n koffieboer se droom. My ma het altyd gesê mens kry vlooie in jou pens as jy te veel koffie drink. Ek wonder hoe lyk hierdie stoepsitters se mae.
En dan is daar die motorryers van die middestad. Genadiglik het ek nie nodig om by hulle iets te leer nie. Hier in die stad kry jy die mees onbeskofte mense in die land. Ek vermoed dit is meer omdat hul bestuurslisensies óf gesteel óf agter ’n bos uitgereik is. Natuurlik is die meeste van hierdie padvarke nie in die middestad werksaam nie. Hulle kom spesiaal stad toe om ons lewens te kom versuur. En baie van hulle het so ’n liggie op die dak en goed op die deure geskryf. Hulle moet pasop dat daar nie binnekort ’n georganiseerde wraakveldtog van die kant van die werkers van die middestad teen hulle kom nie. ’n Mens kan hulle net tot op ’n sekere punt verduur. En as ek ná twee weke so voel, hoe voel diegene wat al jare hier werk!
– 7 Augustus 1992

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie