Van ‘my geld’ na ‘ons geld’
Die sielkundige oorgang van “my geld” na “ons geld” is baie makliker gesê as gedaan.
Ek was nog altyd iemand wat my bes probeer het om my hardverdiende geld verantwoordelik te bestee.
Maar kom ek wees eerlik; sodra ’n kleurvolle somersrokkie deur Mr Price se vertoonvenster vir my loer, vlieg al my finansiële verantwoordelikhede teen die spoed van lig by die deur uit. Dan oortuig ek myself vinnig dat dit ’n “noodsaaklike belegging” in my gemoedsrus is.
Maar nou, ná vier maande se getroude lewe met ons huishouding se nie-amptelike minister van finansies, word my bestedingsgewoontes deeglik onder die vergrootglas geplaas.
Mense sê altyd wanneer jy jou lewensmaat kies, moet een van hul eienskappe wees dat hulle jou ’n beter mens maak, in alle aspekte van jou lewe. En om verantwoordelike, volwasse aankoopbesluite te neem, is blykbaar een van daardie groot aspekte waarvan niemand jou vooraf waarsku nie.
Ek moet egter my hoed vir my man afhaal. Waar ek voorheen klere gekoop het net om dit een of twee keer te dra voordat dit agterin my kas stof begin opgaar, dink ek nou twee keer.
Noudat ons ’n huishouding het om aan die gang te hou, is my kop skielik baie meer nugter. My impulsiewe bestedingsgewoontes is skielik goed onder beheer.
Vind ek myself nog steeds op ’n stappie deur Woolworths terwyl my oë na die nuutste skoene en handsakke dwaal? Natuurlik! Wil ek dit verskriklik graag koop? Met my hele hart. Maar doen ek dit? Nee, ek sluk maar swaar en stap verby.
Ek het besef my lewe draai nie meer net om myself nie. Ek is nou deel van ’n span. Alles wat ek doen en elke sent wat ek bestee, het ’n direkte impak op my man, ons sakke en ons huwelik.
Dit is juis om daardie rede dat jy my nie meer sommer op ’n Woensdagmiddag sal vang waar ek my bankkaart sal swipe vir ’n oulike toppie nie.
Deesdae ruil ek liewer daardie bederfies vir ’n geurige kers of ’n stylvolle blompot. My fokus het verskuif van my klerekas na ons kombuisware en die klein tierlantyntjies in die sitkamer, alles om te sorg dat ons huis regtig soos ’n tuiste voel.
Om getroud te wees, het my geleer dat dit nie meer “my geld” is wat op die spel is nie, maar “ons geld”. Daarom maak ek ’n punt daarvan om daardie ekstra rokkies op die klererakke te los en eerder in ons huis te belê.
Wat ek egter nog steeds nié kan kleinkry nie. . . is hoekom my man my áltyd met ’n opgetrekte wenkbrou konfronteer sodra ek by die voordeur instap met nóg ’n stel “throw pillows” onder die arm. Dis immers vir ons almal se gerief!
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie