Van mal koeie, griep-hoenders tot STD-visse
Morro my minse
Word wakker, daar het ’n alarm afgegaan. Nie vir skoolkinders nie, maar vir ons voedselbronne. ’n Virus swem in die see.
Die sardynherpesvirus. En ek’t gereken die mariene lewe is veiliger. Liewe Vader – van mal koeie, voëlgriep tot in die oseaan se ingewande! Nou ken julle seker hoe my kop hardloop. Ek sê mos ek “ overthink my overthinking”. Dink kwadraat.
Die woord “herpes”. . . en ek sien reusevisse wat weerlose sardyne betas. Wie het waar oral gesoen? My kop teken prente; ek sien onmiddellik die “puffer”- en “blob”-vis (die sugar daddies van die see) met hul Kardashian-lippe.
“Waarvoor met die jeug gaan neuk; hulle kan met hul portuur gaan mors,” dink ek. Daar’s mos baie visse in die see. Daar lê ongetwyfeld ’n swarigheid vir ons voor (oupa Hans was ons die dinge voor!).
Nou wat bly nog veilig. Kort voor lank het ons mopaniewurms een of ander maag-aandoening (’n wurm kan nie wurms hê, so ek reken ’n ander parasitiese infestation).
Wat my ook vir ’n tydjie pla, is die saadlose vrugte. Daar was mos sekerlik ’n menslike gepeuter met kommersiële beweegredes. En waar gepeuter word, verander die natuurlikheid/oorspronklikheid. . . dis hoe ons op die lange duur “fake” groente en vrugte gaan inneem. Sal “nutriënte” in die verre toekoms net ’n klassieke woord word?
My kleinkinders het my klaar aangepraat oor my teensin in kitsnoedels. Ek demonstreer toe heel trots ’n gesonder gereg met spaghetti. Heel slim granny, net om te hoor “Ya-ya, complicate things and waste time, and why so much green stuff?” Daar staan ek oopmond met my voorskoot en houtlepel in my hand. Hy kon net sê hy eet nie bome (broccoli) nie.
Die arme pappot is ’n weeskind in die kas, want kitspap word net met warm water geklits, nogal in vrugtegeure om ons jongelinge ’n rat voor die oë (en mond) te draai!
Die kinders het lui vir kou geword; dit vreet aan hul YouTube- en TikTok-tyd. Praat van vrugte eet, weer eens te veel en te lank om klaar te kry. Terwyl ek en my ou tande van die gekraak tussen tand en appel hou.
Nee wat, hulle verkies ’n smoothie, nogal met ’n tikkie Wild Island-koeldrank. Daar gaan ons weer! Namaaksels kraai koning in die koskas.
Nou ja, terug na virusse in voedselbronne. My “overthink” spring nou soos ’n Namibiese springbokkie – sal ons altemit ook virusses in groente kry? Verbeel jou virusse in groente: pampoentjies in pampoene; waterpokkies in waterblommetjies; tuberkulose in tamaties. Mal mielies?
En so teken al die virusse en kitskosse prentjies van toekomstige generasies: deurskynende kopvel; haarlose vel; geen naels. Swak klein misvormde wesentjies soos gesien in die Lord of the Rings. Ek wil byvoorbaat huil. Ons nageslag is gedoem!
Terug na die sardynkrisis. Kry maar genoeg blikkies in jul spens, in kostrommels, stoor sommer in ’n doos onder jou ou katel. Want dit sal skaars raak en met skaarste kom prysverhogings. Die blikkies vis kom per lorrie uit SA en brandstof klim weer die leertjie, terwyl vars produkte in slangetjie se maag beland en die dice van oorlewing ooraktief. Niemand weet hoe en waar dit sal val nie.
Sterkte aan pescatarians, want die virus kan dalk na ander visse ook versprei. Terloops op land kry jy “airborne” virusse en in see/riviere “waterborne”. Dit loop sekerlik vinniger”
Aan vleiseters, geniet julle potjiekos tot die koeie weer malstreke kry. Smul smaaklik aan jul skaap- en varktjoppie voor bek-en-klouseer kop uitsteek.
Aan my lui-Letta-geslag – slaan weg met KFC en Hungry Lion terwyl hoenders grieploos is. En vergiftig jouself vrywillig verder met ’n energiedrankie.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie