Marlise Izaaks
Marlise Izaaks

Toe monde word nie gevoed nie

Sê maar net
Marlise Izaaks

Vandag se Gen-Z’s is baie uitgesproke. Hulle weet wat hulle wil hê en is baie verbaal daaroor. 

Ek en my peetdogter Tammy is weer eendag op pad om een of ander opdrag te gaan uitvoer. Ek fokus op die pad met Windhoek se duisende kansvatter-motoriste, terwyl sy en haar maatjie wat tans op universiteit in die Kaap is, in gesprek is. 

Maar ek leen so bietjie my ore uit, want hierdie twee dames is nie net uitgesproke nie, maar weet presies wat hulle in die lewe wil hê en niks hou hulle terug nie. Vandag se gesprek is nie te diep nie, maar ek hou daarvan om tussen die lyne te luister. . . daar is ’n besondere boodskap en les om uit meeste gesprekke te leer.

Die twee gesels oor handelsmerke, klere en aanlyn inkopies. Nou nie eintlik ’n gesprek wat ek sal begin of iemand daaroor sal skakel nie. . . geen woordspeling hier bedoel nie, maar ek kry tog nou ’n bietjie snaaks.

Skielik is ek deel van die gesprek toe ek die behoefte uitspreek oor ’n item wat ek ook wil aanskaf. En sonder ’n oogwink is ek die gesprek en onderwerp. 

“Sien jy maatjie, antie sê nooit vir my wat sy wil hê nie. Hoe moes ek weet sy wou ook die item hê?” 

Ek probeer die gesprek vinnig eindig deur te verduidelik dat ons vier kinders in ons huis was en daar nie altyd geld was vir iets vra nie. En dus moes ons net tevrede wees met ’n item so af en toe op verjaarsdae en Kersfees. 

En hier kom dit. . . “Closed mouths don’t get fed Anta”. Daar heers so ’n kort stilte.

Haar maatjie probeer die situasie weer neutraliseer en verduidelik dat hulle meer nederigheid moet toon, maar ek ken my peetkind. 

“Nee, hoe sal mens ooit weet as iemand nie vir jou sê nie?” 

Blykbaar is my suster – haar ma – nes ek, verduidelik Tammy aan haar maatjie. Nee, hierdie gesprek sal nie in ’n motor gevoer kan word nie, die tyd is nie genoeg nie. Nietemin het hierdie gesprek nog die res van die rit geduur.

Wat my egter bybly is die “toe monde word nie gevoed nie”. Hierdie is net een voorbeeld, maar ons kan dit trek na so baie dinge in die lewe. In ’n verhouding met min of geen kommunikasie, in ’n werksplek waar ongelykheid geskied, waar mense in jou teenwoordigheid afgekraak word, in ’n vriendekring waar jy net saam met die stroom beweeg, wanneer iemand hulle aan godslastering skuldig maak en die lys gaan aan en aan.

In hierdie geval is ’n toe bek nie ’n heel bek nie. Want dit is mos die idoom waarmee meeste van ons opgevoed is. 

Nee wat, onderskei maar vir jouself. Daar is beslis ’n tyd om stil te wees, maar wanneer daardie onrustige gevoel jou beet het, jy weet die een wat aan die binnekant van jou hand-op wil steek, dan weet jy, jy moet praat. Jy moet vir jouself en vir ander praat wat nie kan nie. Wie weet watter impak jy kan maak.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer