Terwyl jy wag
Daar is beslis seisoene in die lewe waar jy voel alles het tot stilstand gekom.
Jy het gebid. Jy het gehoop. Jy het planne gemaak en dinge stap vir stap geneem, maar dit waarvoor jy wag en uitgesien het, is net nog nie binne jou bereik nie.
Die deur bly toe. Daar is nie ’n antwoord nie. Die geleentheid wil homself nie voordoen nie.
Iewers tussen “Ek weet dit sal gebeur” en “Hoe lank nog”, vra jy jouself wanneer sal my tyd aanbreek?
Maar wat as die gewag nie tevergeefs is nie? Wat as jy net nie kan sien wat in die wagtydperk besig is om te gebeur nie?
Ons meet dikwels vordering met sigbare resultate, want die samelewing meet ons op hierdie manier. Ons dink die enigste manier wat ons vorentoe beweeg, is wanneer iets aan die buitekant verander, soos ’n nuwe werk, ’n verhouding, ’n finansiële deurbraak, ’n gebed wat verhoor is, genesing of ’n nuwe geleentheid. Maar die belangrikste ontwikkelinge in die lewe, vind stilweg en ongemerk plaas. Ongesiens in die wagtyd.
Net soos die saadjie in die grond, soms vergete en weggebêre, waar niemand kan sien wat aan die gebeur is, so is die wagtyd nie. Wanneer die wortels gevorm word en lewe begin ontwikkel. Ons kyk na die omstandighede en nes die oppervlak, dink ons niks gebeur nie, maar diep binne vind ontwikkeling plaas. Die saad is nie verlate omdat ons nie die groei kan sien plaasvind nie. Jou geduld word gebou, jou karakter word ontwikkel, wysheid word bekom en jy ontwikkel veerkragtigheid. Jou kapasiteit word gebou, om dit te hanteer waarvoor jy gebid het.
Soms is die grootste geskenk wie jy eintlik in jou wagtyd word en nie waarvoor jy gebid het nie. In die seisoen wanneer jy nie die onmiddellike antwoorde ontvang nie, leer jy geduld. Leer jy deursettingsvermoë, want jy ontdek jy kan uithou al is die einddoel nog nie in sig nie. Jy leer om te glo en te vertrou, al is die bewyse nie voor jou nie. En dan leer die wagtyd ons dat ons nie in beheer van tyd is nie. Jy kan voorberei, werk, bid en opdaag, maar jy kan nie bepaal wanneer die deur vir jou oopgaan nie.
Moet dus nie jou wagseisoen mors nie. Moenie net fokus op dit wat nog nie gebeur het nie en vergeet om nou te lewe nie. Moenie sê: “As dit gebeur en as ek dit kry, sal ek gelukkig en vervul wees.” Die lewe stop nie, terwyl jy wag nie.
Die wagseisoen tel en hierdie weergawe van jou tel. So terwyl jy wag vir die geleentheid, gebruik die wagseisoen vir jou ontwikkeling, moet nie net in die wagkamer sit nie.
Mag jou wagseisoen jou kapasiteit bou, veerkragtigheid ontwikkel en karakter vorm.
Mag jou vraag verander van: “Wanneer sal hierdie seisoen eindig?” na “Wie gaan ek word voor hierdie seisoen eindig.”
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie