Andrew Poolman
Andrew Poolman

Terugblik met gemengde gevoelens

Ek Sê Maar Net
Andrew Poolman
Miskien was dit onwetend en onbedoeld een van die herinneringe wat my van die toer sal bybly – die idee vir ‘n bietjie galgehumor in ‘n koerantopskrif wat toe darem goddank nie nodig was om te gebruik nie.

Dit was my eerste buitelandse reis in etlike jare, en ook my eerste keer na enige lande in Oos-Afrika. Altyd ‘n voorreg om ‘n nasionale sportspan buite die landsgrense te vergesel en hulle te ondersteun – wen of verloor.

Met reg was daar hoë verwagtinge vir die kontinentale rugby-eindstryd teen Zimbabwe, wat vir die wenner sy plek na die volgende wêreldtoernooi sou verseker.

Vir die finaal was Uganda se hoofstad Kampala die bestemming vir myself as media, asook ‘n dosyn Namibiese ondersteuners wat as wenners van ‘n kompetisie te danke aan die Namibië Brouerye hierdie groot geleentheid gekry het.

In ‘n klipharde wedstryd het Zimbabwe se Sables toe geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer in meer as drie dekades vir die Wêreldbeker van 2027 in Australië te kwalifiseer.

Hierteenoor het die nederlaag van 28-30 beteken dat die Namibiese Welwitschias die langer en moeiliker ompad na kwalifisering moet aanpak teen die ander wêreldstreke se beste verloorders.

Daai nare gevoel wanneer die eindfluitjie jou span se lot verseël nadat die planne en voornemens vir die voorafgaande tagtig minute skeefgeloop het, tref diep wanneer jy Namibië in die vreemde verteenwoordig.

Op die busreis terug van die stadion na die hotel, terwyl ons groepie woorde probeer vind het om die harde werklikheid te verwerk, het Ricus Nel se treffer "Hardekole" gespeel as een van daai songs wat vir my die sneller trek op ander hartseer herinneringe ook.

Die Welwitschias moes ‘n ekstra week in Kampala bly vir ‘n valbylwedstryd teen die Emirate – ‘n logistieke uitdaging omdat sommige spanlede weens verpligtinge nie langer kon bly nie. Enkele plaasvervangers moes ingevlieg word om weer voltallig te wees, maar die Namibiërs het hul ambisie en landstrots laat geld om hul WB-kans lewend te hou ondanks die veggees van die Asië-span.

Ons span se oorwinning met 86-29 teen die Emirate het darem gelukkig die moontlikheid uitgevee dat ons enige variasie van opskrifte soos “Uganda Be Frickin Kidding Me” oor ‘n potensiële skandelike voortydige uitskakeling sou moes publiseer.

Vroeg in die eerste helfte van die Afrika-finaal teen Zimbabwe was daar agter ons ‘n harde knal en gille van skok. ‘n Gedeelte van die steierwerk wat opgerig is om as ‘n “hoofpawiljoen” vir die belangrike persone en gaste te dien, het meegegee onder die gewig van die toeskouers, wat gelukkig was om nie vanaf die hoogte van ‘n eerste verdieping na benede te stort nie, danksy die seilbedekking onder hul voete.

Weg van die speelveld was die middestadverkeer in Kampala nogal iets om te beleef. Volgens die internet se mees onlangse skatting is daar omtrent 700 000 motorfietse (meestal taxi’s) wat uit ons siening vir ‘n redelik chaotiese verkeersvloei kan sorg – maar vir inwoners is dit uiteraard ‘n normale verskynsel en daar is ‘n bedagsame verstandhouding tussen die padgebruikers.

Ons toer was net vir enkele dae, maar die Ugandese was altyd vriendelik en het as gasheer van die toernooi ‘n goeie indruk gelaat. – [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-08-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer