Henriette Blignaut
Henriette Blignaut

Terug na die natuur se kalmte

Sê maar net 30 jaar gelede
Henriette Blignaut

Vandag is spesiaal uitgesonder vir die natuurbewuste “Groenes” onder ons – Internasionale Omgewingsdag. 

’n Kans om met nuwe oë na bome, bokke en blare rondom ons te kyk.

Shani Grove, bekende skrywer van boeke soos “Dankie, brein” en “Die dans van die brein,” gebruik veral bome in baie van haar oefeninge om konsentrasie te verbeter en van stres ontslae te raak. Volgens haar leef ons in simbiose met bome deurdat ons koolsuurgas uitasem wat die boom inasem, en dan weer die suurstof inasem wat die boom afgee. 

Haar “groen wenke” vir ’n beter en gesonde lewe is eenvoudig – kweek ’n verhouding aan met ’n boom in jou tuin en met wie jy graag sal wil vriende maak. Vra nou vir die boom om al die lelike en kwade gevoelens weg te neem. Plaas jou hande op sy stam en voel hoe al die negatiewe gevoelens uit jou weggeneem word. Sê dankie vir die boom deur dit ’n bietjie water te gee of sit ’n klippie onder die boom as simbool van jou dankbaarheid.

Vir dié wat nie bome in sy tuin het nie en liewer nie uitgevang wil word dat hy buurman se bome omhels nie, is daar ander “omgewingsvriendelike” dinge om te doen. (N.S. Vir die waaghalsiges is daar die ry “Miss Universe”-bome in Mandume Ndemufayorylaan wat enige drukkie sal waardeer.)

Siende dat Namibië amptelik as droogtegeteisterd verklaar is, kan dit moeilik wees om vandag die volgende wenke ernstig op te neem, maar tuintydskrifte en video’s met iewers ’n teken van groen grasperke sal ook die ding doen.

Staar deur jou venster na die landskap om jou. Loop kaalvoet op die gras. Lê op die naat van jou rug en staar na die hemel. Maak vir jou ’n modderplassie en laat die modder deur jou tone krul. Steek ’n kers aan in plaas van om die lig aan te skakel. Eet net vars vrugte en groente. Neem vir Free Willy I en II. Born Free, Shingalana en The Big Blue uit. Stuur geld aan die Red die Renoster-Fonds. Luister aandagtig na Michael Jackson se Earthsong. Gebruik net produkte wat nie op diere getoets is nie. Dra net kunspels. Plant vir jou ’n kruietuin. Gee jou hond ’n lekkerruik-bad. Moenie ’n blom afpluk nie, maar waardeer sy mooiheid in sy omgewing. Plant sonneblomme. Neem ’n dolfyn aan. Skryf ’n brief aan ’n verlore vriend op herwinde papier. Gooi al jou leë glasbottels in die houers vir herwinde glas. Gaan stap die Visrivier-spoelvallei. Los die motor by die huis en slaan liewer voet of skaf ’n fiets aan.

Drink ’n koppie kafeïenvrye koffie of tee. Lees vir ’n kind ’n storie oor drie slim diere. Druk ’n lemoen se sap uit en drink dit in plaas van verkouekapsules. Skaf ’n voëlgids en ’n verkyker aan en maak ’n studie van die voëls in jou tuin. Gee ’n boom ’n drukkie. En sê dankie. – 5 Junie 1996

Kommentaar

Republikein 2026-06-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer