No Image Caption

Tennis uit toeka se dae

Gerine Hoff
Dertig jaar gelede het ek en my niggie ná matriek vir ’n jaar in Europa gaan werk/kuier en terwyl ons in hoogsomer in Londen was, besluit ons om ’n draai by Wimbledon te maak.

Ekskuus, ek verstaan die Britte sal jou vinnig met ’n koue glimlag reghelp: Dis nie Wimbledon nie, dis The Championships.

Reg so. En dis iets wat mens eenvoudig móét doen as jy die kans kry.

Ons eerste probeerslag het ons duidelik heeltemal te laat in die dag by die bane opgedaag en ’n paar uur later besef ons gaan nie kan inkom voor die dag se spel verby was en die hekke gesluit het nie.

En dit was bloedig warm.

Die tweede dag was ons vroeër daar, maar helaas, daar was nog steeds om en by 1 500 mense voor ons in die ry. En daar word net X aantal mense op ’n slag ingelaat. Blykbaar moes ons eerder buite op die veld deurnag het.

Kyk, die Britte gee glad nie om vir toustaan nie. Dis ordelik, dis beleefd, en dis deel van die toernooi se wese. Probeer jy iewers indruk, gaan jy heel moontlik baie vinnig heel agter in die ry beland.

Maar terug by die ervaring.

Destyds was dit die goue jare van legendes soos Pete Sampras, Andre Agassi, Boris Becker, Steffi Graf en Monica Seles. Natuurlik is daar vandag heeltemal ander bekende name. Wat wel dieselfde blyk om te wees, is die hitte van daardie versengende somer van 1995.

Dis ook eers nou wat ek besef daar is heelwat “pomp and circumstance” rondom die kampioenskappe, en as jy nie weet wat die reëls is nie, kan jy net sowel tamatiesous op jou aarbeie gooi. Want sien, hierdie is nie net sommer ’n tennisbyeenkoms nie. Hierdie is ’n tradisie van meer as 150 jaar wat etiket, mode, aarbeie en room, en ook af en toe koninklike verskynings behels.

Al is daar amptelike reëls wat vir die spelers voorgeskryf word (nét wit klere, jy weet), is daar ’n tweede stel reëls wat (onuitgesproke) maar streng toegepas word.

Eerstens moet jy aantrek asof jy prinses Catherine gaan ontmoet, want dis heel moontlik. Iets in die lyn van ’n linnepak, ’n deftige somersrok, ’n netjiese baadjie. Tekkies? Net as dit ’n ontwerpernaam dra. Denim? Waaghalsig. ’n Hoed? Net as dit meer kos as ’n kaartjie vir Centre Court.

En dan die aarbeie en room. Dit maak nie saak of jy van aarbeie hou of nie. Jy móét dit eet. Met room. Dis ’n tradisie. Amper soos toustaan of mense stil veroordeel as hulle verkeerd hande klap.

Wat ons bring by die volgende reël. Of jy klap reg, of jy doen dit glad nie. Jy klap beleefd vir ’n goeie dien. Jy klap grasieus vir ’n beter terughou. Jy skree nooit, ooit oor enigiets nie. En jy begin beslis nie ’n “Mexican wave” nie. Hierdie is nie Loftus nie.

Ewe belangrik: Respekteer die stilte. Een van The Championships se kenmerke is die stilte voor die dien. En bewaar jou siel as jou selfoon lui. Dan is dit basta met jou!

Gelukkig was ons destyds tieners wat nie oor al hierdie dinge geworry het nie.

Want ons het uiteindelik by die beroemde tennisbane ingekom. Centre Court se spel was al lankal verby (ons kon darem nog kiekies neem), die gras was lankal al deurgespeel, en daar was nog net ’n paar verlepte aarbeie te koop. Dit het ook ’n trippie na die noodhulpstasie gekos, want teen daai tyd van die dag het hitte-uitputting ons behoorlik getref.

Maar ons was daar en wat ’n belewenis was dit nie!

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-07-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer