Tannie Annie se blomtuin
Ek sê maar net 30 jaar gelede
Tannie Annie laat my dink aan ’n tuin vol blomme. Kleurvol. Uitnodigend. Jy soek ’n rede om daar te kuier. En lank nadat jy daar was, omring die geur jou steeds.
Ek het haar een keer vlugtig ontmoet. Ons het nie eens veel gesels nie. Twee dae daarna het die engele my ma kom vat soos ouma gesê het. Tannie Annie was by die begrafnis. Haar hand op my skouer het meer gesê as al die trooswoorde van familie en vriende. En van toe al was sy in my lewe. Sommer so. Soos ’n blom wat iemand op ’n dag voor jou deur kom neersit het.
Sy het gehelp om die leemte in die alleendae te vul. Ek het, soos al haar vriende, ’n sleutel van haar huis gekry en het dikwels die stilte van haar lieflike tuin opgesoek.
Soms net om weg te kom. En soms vir genesing.
Soos ons haar naam aan vriende begin noem het, het ons agtergekom dat daar bykans nie ’n gesprek verbygaan waarin iemand haar nie ken of al van haar gehoor het nie. Sy is iets soos ’n klein legende in haar eie tyd. Soos die Grimm-broers se goeie fee in vandag se moderne wêreld.
En in hierdie lewe het ek gevind dat dit goed is om ’n Tannie Annie in jou lewe te hê.
’n Bederf-tannie. Iemand wat weet wanneer dit nie jou dag is nie en ’n boodskap stuur om te sê sy dink aan jou. Iemand wat sommer by jou huis opdaag met ’n mandjie vrugte of ’n goeie boek en, soos altyd, ’n bos blomme.
In die laat nagte by ’n beker koffie het sy my vertel van haar jong dae. Van alleenjare vasgekluister in hospitaalbeddens. Dokters wat hoop opgee omdat sy weens ’n ongeneeslike siekte nooit sal kan loop nie.
“Maar dit is wanneer mense opgee dat God begin werk, nê,” sê sy altyd soos sy opstaan en flink na die kombuis stap om nog koffie in die reeds koue bekers te gooi.
Uit haar lyding het haar liefde en begrip vir ander se pyn gegroei.
Man en kinders het sy nie. Daarvoor is haar lewe te besig. En te vol mense. En of sy ooit moeg word om siekes te besoek en mense in haar huis te verwelkom?
Ek het nog nooit gevra nie. Want ek ken die antwoord.
Tydens ’n onlangse besoek aan die Kaap was ’n kuiertjie by haar eerste op die agenda. Ons gesels lank.
Glip ligvoets verby oppervlakkige hoe-gaan-dit’s tot by diepe hartsake. En soos die laste van die skouers afgepraat word en die stilte ons behaaglik toevou, sien ek die wit Kersboom vol goue engele in die hoek staan.
Op my vraag wanneer die Kersboom uiteindelik weggepak gaan word, glimlag sy stil.
“’n Mens besluit mos maar elkeen wat om met sy lewe te maak. En jy bepaal hoe jy elke dag wil ingaan.”
Ek knik.
“Wel, my lewe wil ek gebruik om mildelik aan mense te gee: my liefde, my aandag, myself. Daarom bêre ek nie die Kersboom weg nie. Elke dag is vir my Kersfees."
Ek kyk weer na die gesiggies van die goue engele teen die Kersboom. En terug na Tannie Annie.
En wonder... – 29 Januarie 1996

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie