Errol Hurter
Errol Hurter

Tafelberg se klongens

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Errol Hurter

Tafelberg se klongens


Dis net mense wat met hulle grootgeword het, wat hulle verstaan en kan waardeer. 

En wanneer die woord “Capie” gebruik word, word dit met alle respek en deernis gebruik want hierdie mense vorm een van die talle fasette wat van die Kaap die plek maak wat dit is: ’n warm, lewendige en polsende metropool. Vergeet van die politiek wat daar heers, dis bysaak. Ek praat nou van die mens, ek wil amper sê die oorspronklike mens van die Kaap, of soos ons hulle genoem het en steeds noem, die Capie.

Wie ken nie sy spitsvondigheid nie of wie het nog nie onder daai spitsvondigheid deurgeloop nie? En al was jy een keer of selfs meermale aan die ontvangkant van die vinnige en gevatte teenantwoord, was jy nooit kwaad omdat jy die ronde verloor het nie want nêrens in die wêreld loop daar iemand rond wat ’n ronde teen die manne se blitsige woorde-reaksie sal wen nie. Jy het maar net gelag en aangestap want dis hoe jy hom ken.

Trouens, as jy die dag in die bui is, het jy hom so half en half uitgelok want sy sêgoed is legio.

Soos die outjie die dag op die Kaapse Parade by een van die vrugtestalletjies met sy perskes, wat nou nie meer so vars en ferm was nie, wat hy aan verbygangers verkwansel het.

Sy rympie was baie eenvoudig, kort en kragtig en hy het boeresielkunde geken. Sy storie was die volgende.

“Lekke’ sawwe pêskes virrie manne sonne’ tanne!” 

Dis ’n juweel. Of die Capie, ’n koerantverkopertjie, wat die oggend toe ek by die verkeerslig moet stilhou en hom by die venster uit vra of hy nie gou ’n brief wat ek wou pos, sommer in die posbus op die sypaadjie wil ingooi nie.

My vraag was, “Man, pos gou vir my.” Sy antwoord, sonder dat hy ’n bek trek, was “Maste’, dit gaan bietsjie lol om djou in daai pous boks in te kry.” 

Ek het my wawyd oopgelaat vir so ’n reaksie en het alweer ’n ronde verloor

Ons was eendag op ’n bekende strand heelwat suid van die beroemde Clifton en waarvan die naam met Ll begin. ’n Paar van die Capies het daar tussen die sonaanbidders rondgedwaal en leë koeldrank- en bierbottels opgetel vir die deposito. Een van die manne wat daar rondgelê het, het blykbaar nie genoeë geneem met die Capies se teenwoordigheid nie en het hulle verwilder. Dit het so een of twee keer gebeur maar elke keer dop hulle net weer op ’n ander plek uit. Toe die kêrel hulle weer gewaar, spring hy op en hardloop op hulle af. Een van die mannetjies gewaar hom en die volgende oomblik gil hy “Oe djirre, hie’ kom’aai ou alwee’”. Hulle is die sandwalle uit en het nie weer teruggekom nie.

’n Ander vrugtesmous, ook op die Parade, het so ’n eerlike streep in hom gehad. Al sy vrugte se lof was besing met ’n “Apples, grapes, bananas as sweet as honey. Trust me, ek wil lieg ma’ ek kannie.”

Die Capies is voorwaar wat die diepte van gevoel in I.D. du Plessis se “Verflenterde kaalvoetklonkie” (wat groente/vrugte/koerante, wat ook al, verkoop in die reën) kan ervaar.

Ek verlang na my mense. – 6 Mei 1996

Kommentaar

Republikein 2026-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer