Ta’ Hannie se skoolstories
Thia Weck – Op ’n koppie, in die middel van nêrens en omring deur koringlande, het die Helpmekaarskooltjie vroeg in 1927 verrys soos ’n vratjie op ’n man se hand.
So onthou ek het ta’ Hannie altyd met haar skoolstories begin. Sy was ’n bobaasverteller. Die kleinkinders sou dadelik nader skuif en miskien sou twee baklei oor die laaste sitplek op die rusbank langs haar. En sy sou geduldig wag totdat almal stil is en dan voortgaan.
“Die kinders van die boeregemeenskap moes vroeër na die koshuis op die dorp gaan. Maar die ouers het gereken daar was nou genoeg kinders binne loopafstand om die oprigting van ’n skooltjie te regverdig. En boonop het dit tyd geword dat boeta smiddaes ná skool vir pa op die lande kom help. En ousus vir ma in die kombuis.”
Ons het die agtergrond geken, maar dit was tradisioneel deel van haar storie en ons het dit gelate so aanvaar.
“Van die onderwysdepartement is die nodige toestemming gekry en in Januarie van daardie jaar het die Helpmekaarskooltjie sy deure – ekskuus,” hier het sy haarself altyd onderbreek, “sy déúr geopen.”
“Uit alle windrigtings, oor rantjies en deur vleie is nuwe voetpaadjies uitgetrap deur die ywerige nuwe leerlinge,” het ta’ Hannie met gepunte vingers beduie terwyl die kinders verwonderd na die beaarde hande kyk wat in die namiddaglig skielik jonk lyk.
’n Taamlike bont spul het sy hulle genoem. Skooldrag was nie verpligtend nie en al was dit ook, sou weinig van die ouers dit kon bekostig. Ta’ Hannie-hulle het swaar grootgeword.
Die skooltjie het uit net een vertrek bestaan. Daar was ’n breë stoep met weerskante twee kamertjies, een vir die seuns en een vir die meisies. Hooffiguur in elke skoolstorie was Juffrou Diena – ’n vrou met ’n sagte stem wat tog ’n klas met leerlinge van graad 1 tot 8 in toom kon hou.
“Juffrou Diena was ’n vrou wat aan die dag van môre gedink het en besef het dat haar leerlinge nie ver in die wêreld gaan kom met net die een taal nie,” het ta ‘Hannie dié dag vertel.
“Die skoolkinders het nou wel nie te sleg daarin gevaar om die rooitaal te lees nie, maar met die pratery het dit gelol. Toe beraam sy dié plan. Sy het ’n houtplankie geneem en daarop in groot vet letters geskryf: ‘I must speak English’.”
“Maandae, Woensdae en Vrydae was Engelse dae. Op dié dae mag net Engels gepraat word. As jy een woord Afrikaans gepraat het, moet jy die plankie om jou nek hang totdat jy die volgende een hoor wat Afrikaans praat. Dan word dit weer aan hom oorgedra.”
Vir sommige outjies het dit met die verloop van tyd makliker gegaan, het ta’ Hannie vertel. Maar van die ander het maar gesukkel.
“Dit was die reël dat een dogter en een seun weekliks vir die skoonmaak van die twee klein kamertjies verantwoordelik was.
Een weer was dit ek en Hendrikkie. Dit was Vrydag en hy was natuurlik haastig om by die huis te kom. Hy besluit toe om weg te glip sonder om die kamertjie skoon te maak. Maar pligsgetrou wat ek was en ook nou nie té lus om alleen met dié werkie opgeskeep te sit nie, draf ek hom agterna, pluk hom aan sy rugsak en haal my beste Engels uit: “Hendrikkie, what about all those papers in your room?” Maar die man vererg hom liederlik vir my en sit my op my plek met ’n rooitaal-weergawe wat die plankie se funksie nuwe betekenis gee: ‘Mén, jus loek in jôr kêmer how lay de pêpers dêr end don’t talk over our kêmer’.”
Al was dit kleintyd en amper by onthou verby gelede, kry herinneringe aan ta’ Hannie se stories dit nou nog reg om ’n namiddagwarmte op ’n koue dag te bring. – 13 Augustus 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie