Wiesie Kotzé
Wiesie Kotzé

Sy voorsiening voor die behoefte

Ek het in Desember 2019 die voorreg gehad om saam met my ma na Spanje en Portugal te kon reis. In daardie stadium was ek swanger met ons seuntjie.

Ons het op Oujaarsdag onsself in Madrid bevind. In die namiddag was daar ’n straatwedren in die omgewing van Retiro Park en die Puerta de Alcalá. Gelukkig het Google Maps ons gewaarsku die kanse was goed dat die paaie vir die geleentheid gesluit sou word.

Die kleurtema van die straatwedren was vir al die deelnemers om groen aan te trek. Die groen massa het in die een hoofstraat afgestroom en dit was nogal ’n indrukwekkende ding om ons in Madrid mee te verwelkom.

Ons het in Retiro Park gaan stap en daar op straatverkopers afgekom wat handgemaakte houttreintjies verkoop het. Die treintrokke het elkeen ’n letter op gehad wat dan sodoende ’n naam kon uitspel. Ek het my man gekontak en gevra of ons ons seun se naam kon vasmaak, want ek wou graag vir hom ’n treintjie met sy naam op saambring huis toe. Die naam is op ’n strokie papier geskryf en vir die betrokke straatverkoper gegee. Ons moes hom weer die volgende dag daar ontmoet om vir die treintjie te betaal. Die volgende dag het ek en my ma weer na daardie hoek gegaan, spesifiek agter die treintjie aan. Die verkoper was nêrens te sien nie, maar een van die ander verkopers wat ook die vorige dag daar was, het die treintjie by hulle gehad. Saam met die treintjie in ’n plastieksakkie was daar ’n lokomotief, ’n wa met ’n hartjie op en ’n trok. Met ander woorde eintlik twee treintjies. Dit het my ’n bietjie verwonder, maar “ja” het ek gedink. Ons het tog eintlik al gepraat dat ons graag eendag meer as een kind wil hê en om in hierdie stadium ’n tweede naam uit te dink vir ’n toekomstige kind is tog laf. Ek neem toe die twee treintjies saam met my huis toe.

Daardie oggend, op Nuwejaarsdag 2020, het ek en my ma ’n spandabelrige oomblik gehad en op die plein van die Puerto de Alcalá gaan sit om ’n ligte ontbyt te geniet soos die samelewing rondom ons.

By ’n nabygeleë tafel sit ’n dame in haar laat vyftigs of sestigs in haar deftigste pelsmantel en drink sjampanje. En dan huil sy dat die trane loop. En dan drink sy weer ’n sluk sjampanje.

Dit was soos ’n oomblik uit ’n Franse kafeefliek. Ek en my ma het met verwondering die toneel saam met ons ontbyt aanskou. En dit het my op daardie oomblik laat wonder op watter plek in jou lewe jy moet wees – emosioneel – om so in die publiek te sit en huil.

So ’n paar jaar later in 2024 was ek self op daardie plek om in die publiek te sit en huil. En ek was oukei daarmee om dit te doen. Kon regtig nie minder omgee nie.

Die tweede treintjie het in my onderbewussyn bly spook. “Here kan dit tog beteken dat dit nie die einde is nie?”

Mag ons regtig hoop op nóg ’n kind, nadat ons reeds een het en een verloor het? Vandag weet ek sy antwoord was “ja”. Sommer daar op Nuwejaarsdag in 2020 al. HY voorsien werklik voor ons behoefte daar is.

Seën vir julle, tot volgende keer.

– Gasskrywer

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer