Wiesie Kotzé
Wiesie Kotzé

Sy beloftes in Sy tyd

Ek het in ’n stadium vanjaar oor profesieë geskryf. Dinge wat in ’n mens se lewe vooruit gesê word. ’n Goeie geloofsvriendin het destyds langs ons babadogtertjie se sterfbed in die hospitaal gestaan en vir ons vertel sy het ’n visioen gehad van ’n dogtertjie van omtrent ses jaar oud, met donker hare wat in haar pienk rokkie ronddraai en dans.

In daardie stadium was ons harte baie swaar en ons was versigtig vir wat so iets moontlik kon beteken. Opstanding uit die dood van ons meisiekind? Dinge het nie belowend in daardie rigting gelyk nie. Nuwe lewe in die toekoms? Miskien. Dit was die laaste ding waaraan ons in daardie stadium wou en kon dink.

Hierdie insident wat hierbo genoem is, saam met die ander twee voorvalle waaroor ek reeds geskryf het, vorm vir my die broodkrummels (soos in Hansie en Grietjie) wat vir ons die pad gewys het na waar ons vandag staan. Die tekens van hoop.

Daardie spaarbussie vir ’n dogtertjie wat bestel is en toe afgehaal moes word terwyl ons dogtertjie op sterwe in die hospitaal lê. Asook die baie vroeëre teken toe ek swanger met ons eersgeborene was; die tweede treintjie wat saam met ons seun se naamtreintjie aan ons gegee is – die een met die lokomotief, die hartjiewa en die treinwa.

’n Belofte op iets of iemand wat dalk in die toekoms mag kom. Iemand wat in daardie stadium nog nie ’n naam gehad het nie.

Vandag is daardie iemand waarvoor ons so lank gewag het in my arms. Sy haal asem en het ’n aptyt! Sy is amper twee weke oud en ons prys die Here vir haar lewe.

’n Vers in Openbaring het die laaste tyd by my opgekom. Alhoewel hierdie vers spesifiek oor die nuwe Jerusalem in die konteks van daardie deel van die Bybel praat, beteken dit op hierdie punt in ons lewens weer iets heeltemal anders vir ons.

Soos hierdie toekoms beloftes wat ons ontvang het voor die koms van ons nuutste dogtertjie, belowe hierdie gedeelte in Openbaring vir ons iets van dit wat voorlê vir ons as Christene, iets wat vir diegene bedoel is wat “Die oorwinning behaal” soos in Openbaring 21 vers 7 genoem word in die 1983 Afrikaanse vertaling.

Die belofte is as volg en eintlik al so baie gebruik dat dit bekend is: “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” (Openbaring 21 vers 5)

“Toe sê Hy wat op die troon sit: Kyk, Ek maak alles nuut.”

Dit sluit vir my aan by ’n ander lied wat ons in hierdie laaste paar jaar ontdek het. ’n Lied van Rebecca St. James, saam met for King + Country genaamd “You make everything beautiful”.

Die lied se lirieke begin met ’n outydse gebed wat ek destyds as een van ’n versameling by my Engelse ouma ontvang het:

“Grant me serenity to accept things, the things I cannot change.

Grant me the courage Lord, to change what I can, wisdom to know the difference.

. . . and you make everything, everything beautiful, everything new.

You make everything, everything beautiful

In it’s time, in Your time, it’s beautiful.

Grant me serenity, Lord, and patience

For things will take time.”

Liefde vir julle, van Wiesie

– Gasskrywer

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer