Placido (Domingo) Hilukilwa
Placido (Domingo) Hilukilwa

Swyg sou sonde wees

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Dit is g’n grap nie. Ek is reddeloos bang.

Want deesdae is dit gevaarlik om alleen te wees, maar ewe gevaarlik om deel van ’n groep mense te wees.

Net nou die dag was ’n mens selfs huiwerig om dit werk toe te waag en van die bank het jy so ver as moontlik weggebly. Dit is wat die golf van gewapende rooftogte in September en Oktober veroorsaak het.

Die staat se inwoners is behoorlik die skrik op die lyf gejaag. Ons het gevangenes van ’n ongehoorde situasie geword.

’n Vriend het voortdurend probeer kalm bly en sover gegaan as om misdaad – meestal geweldsmisdaad – met ’n radiobattery te vergelyk: “Dit maak nie saak hoe hard jou radio blêr nie, die batterye sal een of ander tyd ingee. Net so is misdaad. ’n Misdadiger sal net vir ’n beperkte tyd die lang arm van die gereg ontduik, maar een of ander tyd sal hy rekenskap moet gee – indien nie op aarde nie, minstens diep in die hel.”

Nieteenstaande die goeie raad het die vrees bly klou en ’n mens laat dink aan strenger maatreëls – in die Gulag-styl – wat deur die owerhede getref moet word om vir ’n slag die rowers die skrik op die lyf te jaag, maar sonder om die perke van demokrasie te oorskry.

Asseblief!

Sielkundiges stem mos saam dat outokrate en diktators eintlik mense is wat te bang is om hulleself te wees. Deur ander mense te onderdruk, voel hulle sterk en veilig. Maar in werklikheid is hulle nooit veilig nie.

Teorieë oor die oorsprong en motief vir die September/Oktober-rooftogte in Windhoek is volop. Dit kan egter bloot ’n kwessie wees van “indien die mense nie die waarheid ken nie, hulle kliphard probeer om hul eie waarheid te skep”.

Polisiemanne kry toe ook hul “regmatige” deel van die skuld – elke keer nadat hulle een of twee misdadigers aangekeer het.

Inwoners van ’n woonbuurt in Windhoek het onlangs die polisie daarvan beskuldig dat hulle “onnodig die inwoners wakker maak en op onskuldiges skiet”. Dit nogal nadat die polisie en ’n paar ongelukkige gewapende rowers skote in die donkerte gewissel het.

Nou verstaan ek Finagle se reël reg: dit maak nie saak wat die verwagte uitslag sal wees nie, daar sal altyd iemand wees om: dit verkeerd te vertolk, dit na te maak, te glo dat dit volgens sy gunstelingteorie gebeur het. Ironies genoeg, selfs misdaadverslaggewers word nie toerieë gespaar nie.

“Om oor ’n gevaarlike voorval te berig kan as ’n aanhitsing dien,” sê hulle.

“Wanneer die pers misdaadverslae oor huisbrake, rooftogte en verkragtings publiseer, waarsku hulle die wetgehoorsame burgers. Maar wanneer hulle sover gaan as om te berig dat die oortreders op vrye voete is, hits hulle voornemende misdadigers aan om dieselfde misdaad te pleeg.”

“Om daaroor te swyg is ’n sonde,” sou my redakteur sê.

En ek stem saam! – 4 Desember 1995

Kommentaar

Republikein 2025-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer