Charlotte Beukes-Muundjua
Charlotte Beukes-Muundjua

Swaarkry ken geen kleur

Charlotte sê maar net
Francoise Steynberg
Kaapstad, o, die mooie Kaap wat eens Hollands was, omhels met berge, aan haar voete strek die geil landerytapyt. Beste kunstenaars, mooiste strande. Op die oog af idillies, ’n ryp aarbei met room vir die toeris, ’n paradys vir afgetredes.

Maar in die nate van die sprokiesboek krioel monsters van ellende en verbittering, want die skatryk land het nie werk vir sy eie mense nie.

Die daaglikse lewe van die hawelose ’n gapende wond.

Ek ken al die verskil tussen ’n honger bedelaar teenoor ’n dwelmverslaafde, tog sny die smekende oë diep.

Dis veronderstel om heerlike lente te wees met bloeisels en kleurvolle velde. Net die voëlgesang is dieselfde, die mens se lied ’n rouklaag.

Seisoene maak niks verskil.

’n Maand gelede was dit koud, natkoud, spieskoud. Maar die oorlewingsdrang forseer die werkloses en haweloses strate toe. Die koue kruip in elk plooi, maar die vel voel niks meer.

Dit het met tyd in wind en weer verkrokkedil.

Sy voete wil hom nie meer dra. Sy mond twee dun, droë lyne. Woestyndor. Sy oë kan nie meer vra, praat of pleit nie, al lê die honger bloots op sy eens wit vel.

Op die hoek van Wesleystraat sit en tokkel ’n middeljarige op sy kitaar, onder die walm van Indian fish parcels. Sy hande is moeg vir ’n bakhand posisie en ’n genadelose ”NEE!”. Sy vingers oor die maat gesleep oor sy kitaarsnare, die note bereik nie sy ore, want sy hele alles is uitgeput.

Sy geestesoog sien sangomas wat grynslag omdat hy wit is. Hy probeer passievol sing vir sy daaglikse brood, want daar’s nie werk nie. Daar’s wel werk, maar nie vir wit en bruin.

’n Malawiër met sy Honda Civic Uber swiep verby, want hy’t werk én ’n spazashop.

Die skielike koue wind maak vuur op sy gesig. Sy skouers smeek vir son en net ’n stukkie brood.

Voor Kentucky staan ’n vermaerde bruin man. Sy bruin vel lyk na ’n Chinese tapyt as gevolg van goedkoop wyn. Sy eens “passion-gap” nou ’n poort van honger.

Om die draai loop ek vas teen ’n middeljare bruin vrou. Haar tenger liggaam soos ’n lap in die wind. Alkohol het diep spore gelaat op haar gesig. Sy krap in ’n asblik en vind opgewonde ’n halwe appel en paar chipsskyfies.

Daar is min swart boemelaars, want die land voorsien werk. Die "black empowerment" het nie ’n sperdatum nie.

Dan vra ek wanneer swaai die “empowerment” se swart skaal na wit en bruin? Oosterse winkeliers en Afrika-immigrante het hand en tand diep in Kaapstad se rykdom geslaan, gelykop met selfverrykende politieke leiers – dis ’n walglike ketting van selfverryking.

Die mense sug, monde stroef. Die bende maak messe skerp, ander het weer ’n rewolwer onder ’n T-hemp, nogal by ’n skool.

Met hierdie wrede werklikheid wil ek met oortuiging sê: Namibiërs ken nog nie die toppunt van swaarkry nie.

Namibië, die land van pap en kapana, kyk op en wees dankbaar, want oorkant die grens het swaarkry sy siek patrone ingegraveer verby kleurgrense.

Sal ons hoop (en bid) dat Namibië se korrupsie en immigrante nie ’n ernstig faktor in ons ekonomie word nie.

Al dan nie, volg ons straks die vernietigende landsbestuur van ons buursuster. - Gasskrywer

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer