Suidwes? Luister eerder na Jurie Els
Gerhardus sê maar net
Hoe gaan daai liedjie? “Dis weer vakansietyd, dis rondomtalie-draai, ons gaan lekker visvang in die hoek van die baai”. Ek dink nie Jurie Els sing meer nie. Ek het nog nooit ‘n Jurie Els-CD besit nie, maar hy was baie mense se koppie tee op sy dag.
Iets van sy Rondomtalie-liedjie wat my wel by bly, is sy beskrywing van vakansie. Hy skets werklik ‘n prentjie van sorgloosheid; die bevryding van skoolreëls. ‘n Prentjie wat vir my laat dink aan die kus van Namibië, met tone in die sand en sonstrale wat op jou rug brand. Wat wil jy meer hê?
Dit is juis weens hierdie sorgloosheid wat baie Suid-Afrikaners oor Desembers in Namibië, die veiligste land in Afrika, kom vakansie hou. Of, soos wat party mense dit steeds noem, Suidwes.
Daar is min goed in hierdie wêreld wat my so nukkerig maak soos mense wat nog na Namibië as Suidwes verwys. Wat is fout met jou? Lek jy vensters of is jy werklik net so toondoof vir jou omgewing? Om nog na Namibië as Suidwes te verwys minag jy die idee van vryheid, gelykheid en baie vordering as ‘n nasie.
Kom ek verduidelik met geleefde ervaring: So nege jaar gelede was ek by ‘n fees in Namibië waar ‘n sanger opgetree het. Tussen die sing deur is daar mos altyd geselsies, en een van die geselsies was ‘n onskuldige uitlating oor Suidwes. . . “die goeie ou dae”.
Langs my het ‘n kollega-vriend gesit, ‘n Owambo-man so rapsie ouer as ek. Ek het my oë uit my kop uit geskaam en gebid dat die grond sal gaap en my insluk. Die goeie herinneringe van al die wit gesigte wat glimlag en knik, was hierdie man se hel en onderdrukking. Om los en onbedag met ‘n Suidwes-nostalgie om te gaan, versterk ‘n nalatenskap waar menseregte eksklusief is.
‘n Professor in Duitsland het eendag ‘n gesprek met my gehad oor Namibië. Hy het vir my gesê dat Namibië ‘n wonderwerk is. Blykbaar, volgens hom, as jy al die veranderlikes wat gedurende die onafhanklikheidsproses op die tafel was in ag neem, moes Namibië in ‘n burgeroorlog verval het. Professor Hauswitchka het in soveel woorde vir my gesê: “Namibië is die hoop vir die wêreld”.
Ek onthou as klein seuntjie, gedurende die onafhanklikheidsproses, hoe daar aandui-pyle vir die ou Suid-Afrikaanse Lugmag op die B8-pad geverf is soos jy Grootfontein van Otavi af binne ry. Die oud-SA regering het voorbrand gemaak vir ingeval daar moeilikheid sou wees. En, daar was nie.
Dink hoe sou die res van die wêreld gewees het, sou ander lande dieselfde gesindheid van vredeliewendheid as Namibiërs gehad het? Ons het ten spyte van baie bloed, trane en struikelblokke handegevat en as een nasie vorentoe gestap. Ja, ek stem ook nie altyd met sekere politiese besluite saam nie. Boonop is korrupsie in Namibië, soos in baie ander state (van selfs ontwikkelde lande), spoggerig en onbeskaamd op die dansvloer. Dit skitter! Maar, dit is nie die punt nie.
Die uiteinde van die saak is, ons lewe in vrede en streef om verdraagsaam en respekvol teenoor mekaar te wees. Ons is een lekker gladdejantjie met vele geure en kleure. So, elke keer wanneer daar ‘n hunker na ou-Suidwes is, is dit ‘n stok in die wiele van vrede en vooruitgang.
Sou die verlange na “beter dae” jou oorweldig, gaan luister eerder na Jurie Els. Daar sal jy beelde van stille rivierstrome vind. Mag dit jou kalmeer en rustig maak. En mag jy ook, saam met al ons landsgenote, ‘n geseënde Kersfees en voorspoedig Nuwejaar hê. Vrede vir almal.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie