Suid-Afrika 60 jaar gelede
“Namibië is vir my soos Suid-Afrika van 60 jaar terug,” sê een meisie vir my tydens ’n onlangse besoek aan Pretoria.
Dit was soos ’n oomblik in ’n cartoon waar ek sweer ek kon ons albei se oë hoor knip.
Die mees ongelyke land ter wêreld, een van die hoogste misdaadsyfers ter wêreld, ’n skuldkrisis, kon tot redelik onlangs nie die ligte aanhou nie, ’n waterkrisis elke nou en dan en die heel ergste; die telefoonbemarkers wat alewig so lastig is – maar oukei, geniet maar jou Uber Eats en jou McDonald’s, poppie, dink ek.
Ek was stil, want as ek gesê het wat ek dink, sou ek van daardie pragtige poppie ’n vyand gemaak het. Tog het poppie net na my gekyk en gewag dat ek iets moet sê.
“Ons het ’n vrou as president,” kry ek uiteindelik uit toe ek die gevoel van woede uit my kakebeen kon kry.
Dis nogal wonderlik, besluit Poplap, maar nie genoeg vir haar om Namibië toe te wil trek nie. Ag wat, liefste, dis oraait – bly jy net waar jy is. Ek het in elk geval nie gevra of jy wil trek nie.
Moenie my verkeerd verstaan nie, Cyril se land is ’n lekker plek. Alles is groter, vinniger, geriefliker, besiger. Daar is meer om te sien, meer om te doen, meer om te proe, meer om te voel en meer om van te weet. Dis ’n land van geleentheid en avontuur as jy net uit die verkeer kan kom.
Toe ek uiteindelik een Maandagmiddag uit die verkeer kon ontsnap en tot bo-op die heuwel by die Voortrekkermonument kom, groet ek vriendelik in Afrikaans – jy weet, “when in Rome” en so.
Nee wat, my Afrikaans is nou nie vir die tannie by ontvangs goed genoeg nie, want sy groet in Engels terug. Shame, die tannie groet seker heeldag al wat ’n toeris is, dis seker tweede natuur vir haar.
Toe nie, want hoe meer ek Afrikaans praat, hoe meer gooi die tannie Engels vir my terug. My gashere in die Jakarandastad het my later met opgetrekte wenkbroue vertel dis nie gewoonlik die geval nie.
Ek sou so hoop, maar my substandaard Afrikaans het my nie net by ontvangs in die steek gelaat nie.
Aan die voet van die monument op pad uit, groet ’n knaap wat jonger as ek lyk my met ’n stemmetjie wat klink asof dit gereeld verkleinwoordjies gebruik. En sowaar, in die Queen se English, word ek met die verkleinwoordjiestem meegedeel ek moes ’n “tjappie” op my parkeerkaartjie gekry het.
Ek is daar afgelaai en weer opgetel – ek het nie parkeer nie.
“Okay ma’am, did you pay at the monument?”
Ja, ek het “gepay at the monument” nadat ek die eerste keer heeltemal deur is en die tannie by die hoekie vol aandenkings my ingelig het (darem in Afrikaans hierdie keer) dat ek daar bo moes betaal het. Ek het toe maar weer die trappe aangedurf en my Engels vir die dag by ontvangs gaan kry.
Ek moes later vir die knaap op my banktoep wys daar is geldjies net vir hulle van my rekeningtjie afgetrek.
Die volgende dag is ek by O.R. Tambo en as ek net ’n hysbak kan kry, kan ek kontant trek (want in Namibië oor 60 jaar het ons nie kaartmasjiene nie) om my sak te laat toedraai. Hysbak en kontant is later gekry, ek is deur doeane en het iets vir middagete gekoop. Herinner my op 5 Augustus oor 60 jaar dat ek reeds daardie dag middagete geëet het.
Met brandstof in my enjin soek ek weer een van O.R. Tambo se hysbakke wat skynbaar na Houdini aard. Ek kry uiteindelik ’n dame wat daar werk en sy beduie my om ’n hoek waar sy saam met my inklim. Sy vra waar ek vandaan kom en ek sê Namibië.
“Oh. . . shame,” sê sy saggies.
Ag heng, moet my nie jammer kry nie. Ek het ’n vrouepresident en ek het dit op goeie gesag ons sal oor 60 jaar opgevang het en wanneer daardie dag aanbreek hoef ek nie eens aan middagete te dink nie.
– [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie