Thia Weck (1)
Thia Weck (1)

Stofpad van Port Louis

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Thia Weck – Sloef-sloef maak die halwe waatlemoen in die stofpaadjie af plaasdam toe.

“Sussie, jy moet mooi kyk lat die kinders nie uit die motor val nie,” vermaan die een met die lang vlegsels wat ligweg oor die skouers swiep soos sy stap.

Sussie kyk na die papierpoppe binne-in die halwe waatlemoen. Voor op die punt is twee gate met ma se vleismes ingedruk waardeur ’n toutjie geryg is. Ousus is die vaardige bestuurder, want sy is al vyf.

Die son bak warm in die middagstilte. Net die sonbesies skril eentonig voort. Ousus stap al vinniger. Die waatlemoen wip-wip oor die klippe.

“Sussie, kyk jy nie?” Geen antwoord nie.

Ousus draai om. Sussie is ’n hele ent agter haar en spring op die een been rond. Sy maak haar oë groot en die onderlip wil-wil uitsteek.

“Wat is dit nou?” kom die vraag geïrriteerd. Dit is vrekwarm.

“Doring,” word in ’n beteuterde stemmetjie geantwoord.

Die bestuurder los die tou en stap na die beseerde. Plienk! word die doring sonder enige simpatie uitgeruk en die prosessie word hervat.

“Ousus?” vra die beseerde al hinkende-pinkende.

“Hmm?”

“Waarheen gaan ons?”

“Port Louis toe.”

“Waar’s dit?”

“Dit is plek ver, ver van hier. Waar oom Samie se rooi toffies aan die bome hang en daar roomysblomme groei en die riviere vol limonade is.”

Daar word lank oor dié antwoord gepeins totdat daar tot ’n slotsom gekom word.

“Die roomysblomme sal mos in die son smelt.” Ousus is net ’n oomblik van stryk gebring: “Nie in Port Louis nie.”

“O.” Port Louis. Dit moet darem ’n wonderlike plek wees. Die plaasdam lê skielik voor hulle. Die blink water lê roerloos in die middagson en weerkaats omgekeerde prentjie van blou lug en groen bome.

“Port Louis,” fluister Ousus. “Ons is hier.”

Sussie kyk rond. Verbeel sy haar of sien sy rooi toffies in die groot ou appelboom hang?

“Port Louis! Kyk sussie, daar groei die roomysblomme.”

Ousus wys na die witpluimriete aan die oorkant van die dam.

Port Louis. Plek van geheimenis en ontvlugting.

En met die verloop van Sussie se lewe sou daar met elke stofpad ’n Port Louis wees. Dit het nie soos die ander drome met die jare heen vervaag nie. Sy kon net haar oë toemaak en die rooi beloftes in die appelbome sien wink, die witpluimriete onderstebo in die water sien weerkaats en die sonbesies hoor sing.

Sy kon die veiligheid en geborgenheid daar by die plaasdam voel. En dan kon sy haar stofpad met hernude ywer stap. Eers later sou sy uitvind dat daar wel ’n Port Louis bestaan – op Mauritius, ver van haar alledaagse bestaan. En uit Port Louis en Mauritius en droom en ontvlug het die behoefte stilweg ontstaan om te gaan kyk hoe dié plek van misterie lyk.

En toe dié droom uiteindelik in haar herfsjare bewaarheid word, het sy aan die twee dogtertjies met die waatlemoenkar in die stikkende hitte op daardie somermiddag gedink. Ouma, van jou het ek geleer dat daar in die lewe van elke mens ’n Port Louis moet wees.

Dat die pad soontoe lank is en soms ’n hele lewe lank neem. En dat dit dikwels ’n stofpad is.

Maar ek het gesien dat elke Port Louis die moeite werd is. En op pad soontoe moet jy nooit moed opgee nie, want daar sal altyd iemand wees om die dorings uit jou moeë voete te trek.

– 13 November 1995

Kommentaar

Republikein 2025-11-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer