No Image Caption

Stilword

Môre vier ons as vriende en familie my pa, Fanie Gous, se lewe. As daar nou één mens was wat my liefde vir woorde, kos, kosmos en kompos gegee het, was dit hy! Hy was lief vir mense, die Here, die lewe, diep dink oor dit alles en delf in sy Afrikaanse woordeskatkis om met klinkers en klanke vorm aan sy denkspore te gee. Hy kon hom verwonder aan die fynste besonderhede van die skepping, soos in sy gedig: “Klein spinnerak, in bloekombas, met enkel ankers klou jy vas. Jou weefwerk omhels die lewe, van geloof deur God gegewe”

Hy moes ook groet, soos onverwags een van sy WHS-vriende: “Henri is weg, sonder om vir ons te wag. Was hy nog iewers, sou ek tog liewers, meer moeite wou maak, om uit te reik en hom aan te raak. Nou is hy weg en dit tref seer dat ons die lewendes te min waardeer. Totsiens, Henri, totsiens Mater. Ons kom ook, net ’n bietjie later.” En soos dit werk was die later nou vir ons te gou.

My pa het gewonder oor die dag: “Sal dit dag wees of nag op die dag as ek sterf? Sal ek onder die Melkweg langs om die aarde kan swerf? En so vir laas die seisoene sien, die son en die Suiderkruis? Sal suutjies dan die tyd verdwyn, en nuwe dimensies begin verskyn, waarin ek Gods hemelweë, tesame met my voor- en nageslag betree?”

Sy stem is stil, maar sy woorde eggo nog: “Stilword. Seker maar oor die son nou sak, en hier en daar nog ’n palmtak, se totsiens voel, voor groter waters oor my spoel.”



Petronella F Genis

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Woordspoor op Kanaal 7

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer