Ek su00EA maar net 30 jaar gelede
Ek su00EA maar net 30 jaar gelede

Stel vir jou ’n mikpunt

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Issaskar Kapu

Issaskar Kapuka – Ek glo my skip met die kosbare goud en gepaardgaande rykdom sal eendag in die Namibiese Eksklusiewe Sone opdaag, maar intussen reik ek na die sterre en jaag ek om die eindpunt van my reënboog in te haal.

Iewers lê ’n verborge geheim wat op my wag, maar net tyd sal my kan leer. Soos die spreekwoordelike geduld van die Bybelse Job en dié van die aasvoël sal ek my kans afwag.

’n Mens moet op sy eie probeer om bo te kom waar hy wil wees. ’n Slaaf bly ’n slaaf totdat hy homself kan bewys dat hy meer as dit werd is waarvoor hy aangesien word.

In al hierdie jare is ek en talle ander mense ’n klein stappie verder in die donkerte gelei en het niemand ’n traan gestort oor my welstand nie. Maar terugkeer na die verlede sal ek nie kan maak nie, omdat ek alreeds my mikpunte vir die toekoms gestel het.

“’n Onopgeleide hond sal blaf vir ’n voël wat verbyvlieg, al weet hy dat dit ’n verlore stryd is,” het Bob Marley, een van die bekendste reggae-sangers jare gelede voor sy dood gesê.

Hierdie is in elk geval ’n “leeu-wêreld” waar jy nie enige genade kan verwag nie, maar die beste in jou moet uithaal om te sorg om nie opgevreet te word nie en ook om ’n goeie bestaan te kan voer. 

Die lewe is wreder as drome en ideale wat ek gekoester het, want daar kan geen vrede wees sonder geregtigheid nie. Geregtigheid beteken vir my wat jy vir my gee vir wat ek vir jou gedoen het.

Einde van die dag het ek ’n slagoffer geword van die ideale wat ek gekoester het. Menigte van ons voer ’n bestaan net om die suurstof in te asem, op ’n salaris te leef en te droom om eendag ryk te word. Maar skyn bedrieg en later sit ons almal op moedverloor se vlakte.

My ouma sê dat die lewe wat jy voer net so goed is soos dit wat jy van hom maak. Blameer niemand vir die foute wat jy in jou lewe gemaak het nie, maar leef dit uit asof dit jou laaste dag is, het sy gesê. Die vraag is nie wat die lewe vir my beteken nie, maar omgekeerd.

My eie kinders glo ek sal aan die einde van die dag kan sê dat hulle dit ook van hul pa geleer het dat dit nie baat om staat te maak op geld wat in ’n ander man se broeksak sit nie. Ek praat nie van ministers wat met geldsake werk of die ontvanger van inkomste nie, maar oor ons almal.

Ek weet nou vandag dat jou beste vriend een van jou gevaarlikste vyande kan word. Vir my is ’n glimlag bedrieglik omdat ons in ’n beton-oerwoud leef waar die wette van die natuur geld. 

“Eat or be eaten” of iets soos aanval is die beste manier van verdediging, is die leuse deesdae.

Kla sal nie help nie, het my vriend gesê omdat niemand sal omgee vir jou probleme nie. Inteendeel, hulle sal dit afmaak as een van die woorde wat gereeld geuiter word wanneer jy iemand groet. Ander mense is nie hier om my te bejammer nie, nog minder om my te loof. Ek is soort van uitgebrand en weet nie meer waar ek gaan begin nie. “I am sitting in limbo” en moet die een of ander tyd daar uitkom.

Kundiges weet beter waarvan ek praat, maar op straat sê ek maar net. – 20 Maart 1996

Kommentaar

Republikein 2026-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer