Gerhardus van Grootfontein
Gerhardus van Grootfontein

Stede van slawerny

So paar jaar gelede het ek Haruki Murakami se After Dark onder oë gehad.

Die roman begin waar Murakami die stad Tokyo as ’n lewende organisme beskryf. Die ritme van die stad is polsslae; die snelweë is slagare en ’n motor lyk soos ’n snaakse seedier met ’n buitengewone vel en organe.

Die stad skakel nooit af nie, maar soms is daar ’n stil oomblik. ’n Oomblik waar die snelweg se teerpad grys ontbloot lê onder geel straatligte. Net nou en dan jaag daar ’n motor verby en versteur die oomblik met ’n geluid en wind.

Die lewe is vir my soos Murakami se Tokyo. Daar is konstante beweging en gejaag om verantwoordelikhede na te kom, mense rondom ons te versorg, doelwitte te haal en soms, in baie gevalle, net te oorleef. Soms, gun ons stede vir ons oomblikke van stilte. Hierdie stiltes is kanse vir introspeksie, nostalgie of om sommer net sleg te wees.

Ek het vandag so oomblik ervaar. Ek het my oomblik gebruik om na ou foto’s te kyk en in gesprek te tree met jonger weergawes van myself. Terwyl ek na my donker sjokolade-bruin hare in die kiekies staar, raak ek bewus van my baie gryser boskaas wat my hoof versier. Die algemene opinie is dat mense wyser word met grysheid, maar ek dink nie so nie. . .

Ek dink hoe ouer mens word, hoe meer gevestig word mens in idees en in ’n identiteit wat geskaaf word deur verwagtinge en verantwoordelikhede. Daar is niks fout daarmee nie, maar ek voel ek was op my gelukkigste toe ek die minste getraak het oor verwagtinge en die struktuur wat die samelewing van ons vereis.

Om ons besige stede aan die gang te hou, moet ons in struktuur funksioneer. Struktuur kan inperkend voorkom. Ons moet sekere goed op sekere tye doen, ons moet ’n sekere manier lyk vir professionaliteit en soms word ons gedrag bepaal deur spasies en konvensies.

My jonger self, het sy eie kop gevolg. Ek het my ook omring met mense wat die pret van selfuitdrukking geniet het. ’n Vriendin van my wat soms vir my klere gemaak het, het altyd gesê, jou dag was net suksesvol as iemand jou met tamaties gegooi het. Sy was ’n kleurvolle wese wat die wêreld laat staar, vergaap en glimlag het. Soms het sy rommel op die straat opgetel en dit in ’n uitrusting omskep.

Wanneer ek terugdink, dan besef ek ons verbeelding was in die alledaagse en nie in flieks of TV-reekse nie. Ek mis dit.

In my nostalgie word ek herinner dat stede ook kleurvolle geboue, mooi parke en selfs musiekfeeste het. Stede soos Tokyo, Londen, New York en Shanghai is juis bekend vir hulle kreatiewe spasies, mense en innovering. Binne struktuur, kan daar ook pret wees – ’n klimraam op die speelgrond van ’n kleuterskool is ook ’n strukturele apparaat. So, wat perk ons eintlik in?

Die harde waarheid is: Die opinies van ander. Die koekdrukkertjie-verwagtinge van die samelewing word uitgebeitel deur die opinies van ander mense en soms instansies. Ons word slawe van aanvaarding. Ja, dit is lekker om te behoort, maar wat is die prys? Jou innerlike vreugde en gemak van wie en wat jy wil wees?

Opinies is vir die voëls. Wees ’n outentieke weergawe van jouself, al is dit vreemd of onkerklik. Sing kliphard in die straat, dra jou swyshelmet as ’n sonbril en wees lief vir wie jy wil wees! Slawerny is iets van die verlede.

So, om my ou gees van self uit die verlede op te roep, dra ek môre my lemmetjiegroen vlermuis-uitrusting wanneer ek gaan brood koop, want raai wat. . . ek is die burgemeester van my eie stad. En, jy is ook.

– Gasskrywer

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-04-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer