Spyt kom laat as jy bek verby praat
So onnatuurlik as wat dit ook vir enige onskuldige gewete mag voel, bly dit die nommer een beste raad waarmee aktiviste op regsgebied jou adviseer.
Jy hoef nie met die polisie te praat sonder ’n regsverteenwoordiger nie en dis inderdaad beter om dit nie te doen nie.
Ek weet nie wie dit moet hoor nie, maar daar het jy dit.
Verlede jaar, kort nadat ’n vuurwapen in die hande van ’n bekende Hollywood-akteur op ’n fliekstel ’n koeël afgevuur het wat ’n medewerker se dood veroorsaak en nog een gewond het, het hy aan die polisie sy gewilligheid verklaar om enigiets te doen wat hulle wil hê, insluitend om vir ondervraging polisiekantoor toe te gaaan.
Tydens die ondervraging is die akteur oor sy regte ingelig. Hy het die reg om stil te bly. Enigiets wat hy sê, kan in die hof teen hom gebruik word. Hy is by regte om met ’n prokureur te konsulteer, en een kan aangewys word indien hy dit nie kon bekostig nie. En hy kon in enige stadium die ondervraging beëindig.
Op sy vraag of hy van enigiets aangekla word, het die polisie gesê nee, glad nie. Om sy regte voor te lees, is bloot formaliteit.
En so, sonder sy regsverteenwoordiger, terwyl die polisie die gesprek opneem, het hy vir die volgende uur gepraat. En gepraat. En gepraat. Selfs sy eie teorieë oor die insident en die volgende stap in die polisie se ondersoek aangebied.
Die feit dat die akteur intussen aangekla is en nou op ’n klag van strafbare manslag teregstaan, word deur prokureurs as ’n tydige herinnering ingespan dat die beste raad bly om geensins met die polisie te praat sonder ’n regsverteenwoordiger nie.
Indien hy nou in die beskuldigdebank sy kant van die saak sal wil stel, sal hy enige moontlike teenstrydigheid of onduidelikheid oor sy aanspreeklikheid moet opklaar wat uit sy polisie-ondervraging na vore mag kom – om nie te praat van al sy media-onderhoude sedertdien nie.
Ondanks die oorbekende ritueel in elke polisieverwante TV-reeks of -fliek, vind mense dit klaarblyklik steeds moeilik om hul swygreg te aanvaar.
As jy oortuig is van jou onskuld, is dit dan nie jou plig om jou volle samewerking te gee en die polisie te help in die saak wat hulle ondersoek nie? Om te weier, lyk mos soos iets wat net mafia- of bendelede of skuldiges doen wat iets het om weg te steek.
Tot nou het ons geen aanduiding hoe die akteur se woorde die verloop van sy regsaak sal beïnvloed nie. Sy geval is egter ’n herinnering van die gevaar wat onskuldige mense (met veel minder geld of invloed as hy) oor hulself kan bring deur te doen wat hulle reken “die regte ding” is.
James Duane, ’n regsprofessor, se video-voorlegging “Don’t Talk to the Police” is reeds meer as 18 miljoen keer op YouTube gekyk.
Soos hy uitwys, sluit die uitlees van jou regte nie in dat enigiets wat aan die polisie gesê is, in die hof in jou guns gebruik sal word nie. Howe gee inderdaad aan die polisie heelwat beweegruimte om tydens ondervragings vir mense te jok en vir aanklaers om jou moontlik inkriminerende getuienis teen jou in te span.
Dis onwaarskynlik dat jou hele storie aan die polisie tydens ’n verhoor opgehaal sal word. Maar enige vlugtige verwysing aan jou kant wat verkeerd geïnterpreteer kan word, sal prominent in die kollig geplaas word.
In sy boek “You Have The Right to Remain Innocent” skryf Duane: “Hulle sal vir jou lieg oor watter misdaad hulle ondersoek; of hulle jou as ’n verdagte beskou; watter bewyse hulle teen jou het; of jou verklaring op rekord geplaas word; of ander getuies ingestem het om te praat, of oor wat hulle gesê het of nie.”
“Daar is net te veel maniere waarop onskuldige mense die fout van hul lewe begaan en vir altyd daaroor spyt is.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie