Spyse uit die Vrystaat
Ek sê maar net 30 jaar gelede
Wat sal dit wees, het die nooientjie gevra toe sy by ons tafeltjie kom hurk het.
Haar knieë het van gesonde jonkheid geklap en sy het haar bokstertjie geswaai of sy lank aan die beweging geoefen het.
“Vrystaat, gee my jou hand,” het ek vir Paul gesê bedoelende dat daar ook ’n sagte plekkie vir vreemdelinge in die hart van Welkom is. In die Vrystaat word mos desedae nie meer Vrystaats gepraat nie, maar so ’n Fanakalo met ’n Engelse geur. So word ’n herwaarts en ’n derwaarts beduie terwyl ons net na ’n stukkie vleis soek – lekker vet beesvleis. Die Ita se pasta wil ons nie, by ’n tweede plek word ons weggewys omdat die eetsaal ge-“boek” is en by ’n derde plek is daar allerlei vereistes oor broeke, dasse en baadjies.
Naamweggooi dit wil ons nie.
“Meisie,” het ek gesê-vra, “hierdie Stetson onder die steak? Dis darem seker nie van die cowboy se hoed gemaak nie? Stetson noem hulle mos daai breërandding wat hulle dra.”
Nee, sê sy en sy beduie ’n sirkel met die vingers van albei hande, maar kry hom nie voltooi nie. Daarvoor is die stuk vleis te groot waarvan sy die buitelyne probeer omsoom.
“Dis hy daai,” sê ekke terwyl sy die eerste strofetjie op ek en Paul se bladsy in haar kos- en geldboekie skryf.
Nou vra sy op haar suiwerste Afrikaans: “En die sous, oom? Mushroom sauce of monkey gland of pepper?”
“Sous? Ja, natuurlik my kind. Maar hoe maak jy hom? Skep jy met ’n groot platlepel van die boom van die kastrol? En krap jy die boom so ’n effens om ook van die stukkies te kry wat so wou-wou aanbrand. En die uie? Druk jy die uiwe op ’n bondel met die opskepslag? Ek sal twee lepels vat. En het daar nie plek-plek sulke klein stukkies kaiing afgebraai en in die pot geval nie. Sous, ja, sous my kind. Oom wil sous hê.
“Dis daai souse wat die oom wil hê. Moenie water bygooi nie. Bring hom sommer so dik vir die oom.”
Die nimlike nooientjie lag en skud weer die poniestertjie dat dit haar nek kielie.
“Ek bring vir oom so ’n voorproe van elke sous. Dan besluit oom self.”
So skryf sy op – een Stetson en drie maal proe-sous.
Nou vra sy oor die bykosse en die groente. Daar’s ’n keuse tussen aartappelskyfies en gebakte aartappels.
“Daai gebakte aartappels. Van waar is dit? Is dit die soort wat so klink wanneer dit op die bord val. Ek wil amper sê dit moet sulke skurwe hakskene hê. Oom sal keer met die opskep dat die goed nie die hele wêreld vol hop nie.”
Dis nou amper of sy skaam kry vir die plek waarheen die flikkerende handelsligte my en Paul gelok het – vir die sagte stoele, die netjiese tafels en die vriendelike mense met die inkomslag.
“Nee oom, die aartappels is in foil. Nou nie heeltemal nie. Die blink papier maak net so die onderent toe. En maak hulle hom reg, bars hy bo in so ’n klofie waarin oom botter kan smeer. En dit in die Vrystaat, my kind?
Weet julle van die aartappels wat hier annerkant in die mark lê? Dis sulke blinkvet klinkers. Jy kan hom sommer so met die vel en al in die as stoot.”
“Ons s’n is ook van daai, maar... Ek gaan raas kry as ek langer by julle twee se tafel bly, maar ek laaik dit want ek is self af die plaas af.”
Met die wegstapslag draai sy om en kom vra weer. “En die koffie? Dit wat oom soek. Dis nie plastic nie... moer van pitte wat ons self gebraai en gemaal het. En ons skink hom uit ’n kan.”
“Nee, kind, bring sommer maar die kan.”
’n Namibiër aard nogal in die Vrystaat, veral as ’n kaggel van onthou in jou brand op ’n bittere koue wintersaand. – 11 Augustus 1995

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie