Spieëltjie, spieëltjie
Nee, nee jou hele dinges, spieëltjie. Ek speel niks meer saam nie, want jy lag dan vir my rolle, maaskaasboude, Alf-haarstyl en skewe tanne!
Jy is dan die vrou se bestie, maar lyk my jy’s meer vyand; kop-in-een mus met platgevreet badkamerskaal.
Geniepsige meidjies!
So loop ek ’n ovaalvormige spieël met brons/antieke raam raak in my “thrifting”-ekspedisies. Die tipe wat in Titanic of oumiesies Lubowsky se huis was. Enig is sy soort.
Maar my antieke spieël is vaag, asof bedek met permanente wasem. Smaak sy kyk binnekant toe na haarself (“self absorbed psycho bitch” dink ek in my enigheid).
Maar selfs in haar “gerookte” toestand het sy geen genade vir my beeld.
Verbeel jou die Chinese maak ’n pratende spieël – hulle dink mos nie net buite die boks nie, hulle dink rondom, dek elke hoek.
Met AI is dit seker moontlik. Ek sweer haar gewildste stelling sou wees: “Gaan maar sprokieswoud toe en photoshop jouself by daai partytjie; dis tydelike geflous, want iPhone word gemanipuleer – geen teenkanting. Maar sissie, die werklikheid wag vir jou by die huis. . . want ekke Madam Spieël swaai die septer. Geen hand-om-die blaas-verhouding, wê!”
Ja, sy sou haar blinkbek uitspoel. Teen die tyd wat jy opgedollie uitgaan, is daar ’n mini-oorlog in jou kop en lyf. Regte aanmekaar-trekker!
Spieëltjie is pynlik eerlik. Sy voel vir jou soos ’n ma met ’n houtpram, geen sugar-coating, geen valse vleiery.
Net ’n akkurate trugflits, Sy neem gretig kiekies en stoor dit in jou kop. Dis haar taak!
Sy terg, en wil miskien ook braak as jou voorkoms gaggas is. Of jou ’n kopklap gee as “wake-up call” met ’n skel stem: “Kry jouself in orde, waar’s jou trots?”
Sy herinner ons daaglik hoe ons vir onsself lieg, sonder blik of bloos
Dan kry jy huise met spieëls oweral. ’n Gesigspieël, ’n vollengte een; ’n dekoratiewe spieël in die gang wat jou laat reverse in jou verbyloop. Met ’n vraag: “Eto, hoe lyk ek dan vandag?”
Nou dink ek as al die spieëls gereeld ’n werkswinkel het – toppunt van sameswering; jip, sy is magtiger as die goewerment. Beslis mees suksesvolle konferensie, want almal móét dieselfde diens lewer, genadeloos.
Dink aan jou huilsessie voor die mall se massiewe badkamerspieëls, met swart maskarariviertjies.
Spieëltjie sou sekerlik heel vererg sê: “Dink tog aan jou duur make-up madam, jy huil jou geld weg. Kry jou loop, ek kan nie heeltyd na jou droewige bakkies kyk!”
Spieëls hang meeste van tyd gesigloos blink langs skilderye van Picasso/Vincent van Gogh of Ben Makala, sonder ’n sweempie lae selfbeeld. Sy ken haar waarde!
Durf jy haar breek. . . sy’t haar eie karma. Jou sewe jaar “bad-luck” is geboek, rus-rus!
Ongeag jou herwinningsplanne om haar stukkies te verfraai in jou mosaïekkunswerk, is sy boos oor haar begrafnis, jy’t haar lewe kortgeknip, haar eer geskaad.
En onthou, alle kiekies wat sy geneem het, lê geëts in jou kop! Sielkundige riller, 10 keer meer as Netflix-spaza-rillermovies
Respekteer jou spieël, hetsy ’n swaar Egiptiese invoerstuk of die China Town- papierdun spieël.
Terloops, het klerewinkels spesiale spieëls? Kommersiële graad, glo ek, want sy laat vertoon jou dan heel sexy. Sekerlik ’n bemarkingstrategie om verseker daai rok gaan saam huis toe. Wat ’n wrede ontnugtering, want jou huishoudelike spieel vertoon anders – daar flits Miss Piggy onfatsoenlik terug! Eina!!
Jy’s gefnuik, madam. Jou huisspieël is soos jou hubby, die winkelspieël jou skelmpie.
Spieëltjie, spieëljie, sê tog wie’s die mooiste inni land (of op die swakste in die huis).
Wees ‘seblief tog my maatjie nou en dan anders gaan ek jou wragtig by Cash Converters verpand.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie