Spaar die Roede, en dan?
Eerlikheid moet iets wees waarmee ’n mens gebore word, want as gemeenskappe dit kon aanleer, het lande en hul mense hemel op aarde gehad.
Landdroste wat hande gevou in die hofsale sit en nou en dan kaart speel, polisiemanne wat hul skoene “bone” voor ’n blinkskoen-kompetisie, spietkops wat voor die president se kar uitjaag op pad lughawe toe en wens hy wil elke dag iewers heen vlieg sodat hulle daai bietjie opwinding nie misloop nie, sou die daaglikse roetine gewees het.
’n Kar wat jy ongesluit langs die straat laat terwyl jou vrou inkopies doen en jy solank ’n bier gaan drink. So was dit in die ou dae. Soos met alle gevalle van wensdenkery is so ’n toestand in vandag se dae ondenkbaar, onmoontlik en onbereikbaar.
Oneerlikheid kom voor in alle lae van die bevolking: van politici, verby ampsdraers van plaaslike owerhede (nog tot onlangs bekend as munisipaliteite) en staatsamptenare tot by die voetvolk. Organisasies en individue word besteel, of dit nou deur middel van die brute krag van ’n inbraak geskied en of dit nou deur ’n fyn uitgewerkte plan van ’n swendelaar plaasvind, oneerlikheid het gekom om met ons te bly.
Aan die ander kant van die skaal is die eerlike mens en die wat sy medeburgers vertrou. Dit voel my so half of hulle in die minderheid is, maar dat hulle bestaan, is waar. Dink nou byvoorbeeld aan die bakkery op ’n dorpie noord van Windhoek. En nou hoop ek van harte dat ek nie ’n nuwe weiveld aan die oneerlike bliksems bekend stel nie.
Hoe dit ook al sy, as jy vroeg smôrens daar ’n brötchen en koffie bestel op jou pad kus toe, kan jy maar vra of hul brood vir die Bonusmark op Swakop al weg is. Indien nie, gee hulle jou die karton om te gaan aflaai en jou brötchen en koffie is op die huis. Hulle vertrou jou dat die pakkie sy bestemming gaan bereik en dit gebeur inderwaarheid so. Wat wil ’n mens nou met ’n boks vol brood maak. Uitdeel aan jou pélle of honger kindertjies in die Vyfrandkamp of die Omdel-woonbuurt op Hentiesbaai? Nee man, jy vat die goed na die adres waarheen dit moet gaan en dis die end van die storie. Ons ma’s het ons mos reg grootgemaak.
Vat nou vriend Andries. Hy vertel toe hy op Aranos in die laerskool was, hy een van ’n groepie kinders was wat elkeen ’n boom gekry het om te plant. Soos hy sê, daardie bome staan vandag nog, dis te sê, in die veertig jaar reeds. Hy’s mos nou eerlik oor sy ouderdom. So van ouderdom gepraat. Die evasgeslag is seker die oneerlikste spesie ter wêreld as dit by hul ouderdomme kom. Ons mans weet nie waarom dit so is nie, maar dis die gegewe en dis die enigste vorm van oneerlikheid wat aanvaarbaar is. Wat gedoen kan word met oneerlikheid wat met gemeenheid gepaard gaan, weet ek nie.
Ek wonder of Ehafo nie dalk van hul rottange aan Justisie wil verkoop nie en biedêm die konstitusie. – 6 September 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie