Pedro Steenkamp
Pedro Steenkamp

Soveel water in die see

Ek sê maar net 30 jaar gelede
-

Staan en vertel ’n omie laasweek van vakansieplanne. “Vanjaar gaan ek see toe. Myl 108. Ek en die vrou gaan al die afgelope veertig jaar see toe. Destyds het ons twee alleen-alleen net suid van die ysterkaai op Swakopmund in ’n bokseiltent gekamp.

Later het die kinders bygekom en die kampplek het al meer noord geskuif tot waar Myl 4 vandag is. Nog later het ek besluit om weg te breek en ons het op 108 begin kamp en daar kamp ons vandag nog. Jaar vir jaar elke jaar.” 

Dié gesprek het gedagtes losgemaak wat al vergete was. Dié gedagtes was so helder of dit gister gebeur het.

Daai eerste keer dat ek die see gesien het vanwaar ek agter pa se blad gestaan het in die Willys Jeep met sy seilkap.

Daai eerste afklim langs daardie yslike blou dam wat geen ander kant gehad het nie. Daai eerste kennismaking met die soutwater en daardie eerste nag se slaap in die bokseiltent met die see se geruis in die ore. Daai eerste blinklyf wat pa uitgetrek het.

Die bekoring van die see het gebly. Later jare toe ons kinders groter was, was see toe gaan nog net so lekker. Daai eerste vis wat eiehandig gevang is. Daai Nuwejaarspret op die strand en die langarmdanse op ’n harde stukkie grond in die kampplek. Daai lywe wat in die son lê en bak het. En daai eerste soen op die soutlippe van ’n meisie met blou oë en songebleikte hare.

Sjoe!

Nog baie jare later die eerste nag op die dek van ’n vissersskuit wat die golwe ry en die sproei wat koud en klam deur murg en been sny. Die rusverstoorde seevoëls wat oor die dek kras. Die verligte wit skuim toe die bootsman die net uitroei om rondom die skool sardyne te trek. Geharde vissersmanne wat die net intrek op die heen-en-weer-wieg van die skuit. ’n Skipper wat beveel dat jy jou vasmaak aan die relings omdat hy vrees die branders gaan jou afslaan van die dek af. Die angsnag toe ’n kabel tussen die swaar gelaaide vissersnet en ’n katrol breek en ’n jong visserman se verminkte liggaam oor die dek slinger. Die trane in die oë van ’n skipper wat soos leer gebrei was deur die ongure elemente van die diepsee.

Daarna was ek baie by die see. Dit het sy bekoring behou, maar dis tog anders. Waar dit toe vreugde gebring het, maak dit nou effens hartseer. Daar het te veel water in die see geloop sedert daardie tyd. Die see het gebly soos hy is.

Die vissersskuite loop nog om die punt, die seevoëls raas nog en die branders hardloop nog skuimend op die strand uit.

Dis net of ek nie meer deel is van hierdie magtige stuk water nie. Die hande wat toe myne vasgehou het as ons die branders getrotseer het, is nie meer dieselfde nie.

Die oë waarin ek toe gekyk het, is nou anders. Die sterk liggaam van toeka wat dae aaneen die hele dag lank die loodsinker tot doer kon slinger, word nou moeg en hoop daar byt nie ’n té grote wat té erg spook daar voor nie. Wat is dan die probleem? Vra ek jou. Seg die stemmetjie in my agterkop: “Jy word nou oud.” – 23 Oktober 1996

Kommentaar

Republikein 2026-10-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer